Drama by SPL Krieket finaal
Dit was 'n kieket finaal sonder weerga. Die wedstryd tussen die Roosters en die Gary Mann Stags het op 'n mespunt gebalanseer.
VANDERBIJLPARK – Die Sedibeng Premier Liga (SPL) T20 se o13-finaal tussen die Roosters en die Gary Mann Stags was ʼn spannende skouspel. Vir die eerste keer in die liga se 12 jaar het die wedstryd met ʼn super boulbeurt geëindig.
Die Roosters het eerste gekolf en hul openingskolwers was aan die brand. Hul eerste paaltjie het eers in die sewende boulbeurt gekantel toe Xander du Plessis ʼn goeie vangskoot benut het van Christiaan Kemp se boulwerk. Chesney van den Berg het ʼn goeie 21 van 22 balle aangeteken.

Openingskolwer Dillan Gomez het egter vas bly staan en na 10 boulbeurte het die Roosters 84/2 gehad. Dillan het uiteindelik 52* gemaak. Christiaan Kemp het die grootste amok onder die Roosters se kolwers gesaai en het drie paaltjies geneem vir slegs 13 lopies in sy toegelate drie boulbeurte.
Die Gary Mann Stags het die veld betree met ʼn teiken van 171 lopies in hul visier. Hul kolfbeurt het wankelrig begin toe Gabriël Jackson uitgevang is met die eerste bal.

Die boulers kon egter nie van Xander du Plessis ontslae raak nie. Hy het ʼn blitsige 50* lopies in slegs 19 balle aangeteken. Anton Spies het nadat Xander weer ʼn volbal grens toe gestuur het opgemerk dat jy nie ʼn volbal vir Xander moet gee nie, want “hy gaan jou opeet soos ʼn Tinkie.”
Na 10 boulbeurte het die Stags 60 lopies van 60 balle benodig. Die spanning het hoog geloop. Paaltjies het met reëlmaat gekantel, maar steeds het die lopies gevloei. In die 19de boulbeurt het die Stags skielik twee paaltjies verloor. Hulle het 12 lopies gekort en daar was 9 balle oor.

Die laaste boulbeurt het aangebreek met die Stags op 161/7. Twee balle later het nog ʼn paaltjie gekantel. 162/8. “Tot die umpires stres,” het die veldkomentator laat hoor. Drie balle oor en paaltjie nommer 9 kantel. Uitgevang. Presies wat die Roosters nie wou gehad het nie. Dit het Xander teruggebring voor die penne.
Sewe lopies. Twee balle. Met die laaste bal van die 20 boulbeurte trek Xander los en slaan ʼn reuse 6. ʼn Gelykoptelling in die finaal. Dit was tyd vir ʼn Super Over. Die eerste een in SPL geskiedenis.

Die Stags het eerste gekolf. Xander was weer voor die penne en het vier grenshoue na mekaar gemoker. Na ses balle het die Stags 20 lopies aangeteken. Die Roosters kon net 15 lopies in hul ses balle slaan, wat die Gary Mann Stags tot kampioene gekroon het vir 2026.
Christiaan Kemp van die Stags is as bouler van die seisoen aangewys nadat hy 8 paaltjies vir 30 lopies in 7 boulbeurte geneem het en Jacques Mynhardt is die o13 kolwer vir 2026. Xander du Plessis is as speler van die wedstryd en van die reeks aangewys.