News

77 414 leerders wag nog op skoolplasing in Gauteng

Die DA vra dat Gauteng skoolaansoeke vroeër open om te keer dat graad 1- en graad 8-leerders aan die begin van die skooljaar onderrig misloop.

Altesaam 77 414 graad 1- en graad 8-aansoekers in Gauteng wag nog op skoolplasing vir die 2027-skooljaar.

Die DA vra dat die provinsiale onderwysdepartement ’n sperdatum vasstel om die uitstaande plasings af te handel.

Volgens die DA het Lebogang Maile, Gauteng se LUR vir onderwys, tydens sy jongste mediakonferensie gesê 77,27% van die aansoekers is reeds geplaas. Maile het ouers volgens die party verseker dat alle leerders geplaas sal word.

Sergio Isa Dos Santos, die DA se Gautengse woordvoerder oor onderwys, sê die party het talle klagtes ontvang van ouers wie se kinders steeds op plasing wag of plek gekry het by skole waar hulle nie aansoek gedoen het nie.

Die DA waarsku dat leerders onderrigtyd kan verloor as hul plasings eers ná die begin van die skooljaar afgehandel word. Die party sê 4 858 leerders het op 6 Januarie vanjaar nog op plasing gewag en dat die departement die uitstaande plasings eers in Maart afgehandel het.

In 2025 is 6 377 leerders tussen 15 en 30 Januarie geplaas, nadat die skooljaar reeds begin het.

Dos Santos sê die DA het die departement herhaaldelik gevra om aansoeke vroeër in die jaar te open. Dit sal volgens hom meer tyd laat om probleme met plasings op te los voordat skole heropen.

Die party vra dat Maile, benewens ’n sperdatum vir die uitstaande plasings, ook ’n plan bekend maak om te keer dat leerders aan die begin van die 2027-skooljaar onderrig misloop.

Die DA stel voor dat gewone aansoeke teen April en laat aansoeke teen September open. Volgens die party sal dié rooster die departement agt maande gee om leerders te plaas sodat hulle op die eerste skooldag met klasse kan begin.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button