Dis déjà vu – Dieselfde kabeldief weer vasgetrek
Dis om van moedeloos te raak. Oorteders word aangekeer. Die Hof laat hul vry. Hulle gaan pleeg dieselfde misdaad weer.
SASOLBURG – Dinsdagoggend het Public Eye Vaal in samewerking met Crime Watch en die Gemeenskapspolisieforum (GPF) ʼn verdagte op heterdaad betrap in Vaalpark waar hy kabels uit ʼn beskadigde lamppaal gesteel het.
Vanoggend het ʼn lid van die publiek in Sasolburg vir Public Eye laat weet dat diewe besig was om ʼn huis se kabels te steel en gedeeltes van die eiendom afbreek en wegdra.
Public Eye het dadelik gaan ondersoek instel en een verdagte op die toneel gevind. Die polisie is geskakel en die verdagte is in hegtenis geneem. Dit blyk toe dieselfde man te wees wat hul Dinsdag vir koperkabel diefstal vasgetrek het.
In ʼn video in Vaalweekblad se besit sê die verdagte dat hy Woensdag in die hof verskyn het, maar op gratis borgtog vrygelaat is omdat dit sy eerste oortreding was. Hy erken egter op die video dat hy al menigmale vir verskeie oortredings gearresteer is en al in die tronk was.
Hierdie is ʼn geval waar die sekuriteitsmaatskappye, GPF en die SAPD hul werk gedoen het, maar die regstelsel het die bal laat val.
Public Eye en hul misdaadvennote sal egter nie ophou om misdaad in Vaalpark en Sasolburg te beveg nie. Dup du Plessis het die lid van die publiek bedank wat hul gekontak het. “Dis hoekom gemeenskapbetrokkenheid so belangrik is.
“Dit maak ʼn verskil. Wanneer jy iets vir jou suspisieus voorkom, rapporteer dit. Jou inligting help ons om misdaad te voorkom en misdadigers aan die pen te laat ry,” het hy gesê.