News

‘Vader van die Vaalmarathon’ sterf op 91

Die Vaal neem afskeid van ’n man wat hardlopers touwys gemaak en deur Rotary sy gemeenskap gedien het.

VEREENIGING – Arthur Doyle, ’n bekende oud-inwoner van die Vaaldriehoek wat diep spore in plaaslike atletiek- en Rotariërkringe getrap het, is op 16 November in die Wes-Kaap oorlede.

Die 91-jarige sal deur talle as die vader van die Vaal-marathon onthou word.

Wyle Arthur Doyle.

Doyle, ’n voormalige siviele ingenieur by destydse Yskor, het in 1978 by die Vaalatletiekklub aangesluit.

In 1981, die jaar waarin hy as padkaptein verkies is, het hy die negende Vaal-marathon gereël.

Dit was die eerste van vele wat hy sou organiseer.

Een van die motors wat Arthur Doyle ná sy aftrede self gebou het. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Roelof van Wyk, ’n jarelange klublid, het die wedloop onder Doyle se leiding tot die grootste sportbyeenkoms in die Vaaldriehoek gegroei.

Doyle het later as klubvoorsitter gedien en is in 1996 as lewenslange president verkies.

In 2020 het die klub die Arthur Doyle-medalje ingestel vir deelnemers wat die volle marathon in minder as 03:15:00 voltooi.

Arthur Doyle.

Doyle het tussen 1980 en 2000 verskeie Comrades-marathons voltooi en elke keer brons verower.

Hy het ook die klub se informele “bun runs” begin, waar ervare hardlopers ná ’n oefenlopie oor ’n Coke en ’n broodrolletjie raad met beginners gedeel het.

Michael Gaade onthou hoe Doyle hom in 1984 aan hardloop bekend gestel en aangespoor het om die Comrades aan te pak.

Arthur Doyle se geliefde aluminium Eddy Merckx-fiets is saam met blomme, kerse en ’n portret van hom by sy gedenkdiens uitgestal.

Volgens ‘n vriend, Bennie Botha, het Doyle Noord-Transvaalse kleure in baanfietsry en motortydrenne verwerf.

Hy het ook die Rotaryklub van Vereeniging se jaarlikse fietstoer van Vereeniging na Durban help reël.

Ná sy aftrede in 1993 het hy homself met behulp van boeke geleer om motors te bou.

Arthur Doyle.

Ná sy vrou Ilze se dood het Doyle in Vereeniging bly woon.

Hy het in Mei na die Wes-Kaap verhuis om nader aan sy kinders te wees.

Sy gedenkdiens is vir 18 November om 13:00 by Urban Edge Church in Durbanville gereël.

Arthur Doyle.

In die gedenkprogram onthou sy kleindogter Zoë hoe haar oupa altyd gesê het ’n koppie tee maak alles beter. Voortaan, skryf sy, sal sy met elke koppie aan hom dink.

“Hy het sy wedloop met trots gehardloop en vir oulaas die eindstreep oorgesteek,” het Van Wyk in ’n huldeblyk namens die Vaal-atletiekklub gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button