Wes Wits laat Eldoronians op hul neuse kyk

Al Wes Wits se spanne het verlede Saterdag hul wedstryde teen die Eldoronians Rugbyklub van Eldorado Park gewen.

Al Wes Wits se spanne het verlede Saterdag hul wedstryde teen die Eldoronians Rugbyklub van Eldorado Park gewen.

Volgens Wes Wits se voorsitter, Barney de Koker, het die dag nie heeltemal volgens plan verloop nie, aangesien die spelers van Eldoronians laat vir hul wedstryde by Wes Wits aangekom het. Dít het veroorsaak dat die eerste twee wedstryde net 20 minute aan ‘n kant gespeel moes word om te verseker dat die eerste span wedstryde steeds om 16:00 kon begin.

“Dit was jammer want ons sou vermoedelik ekstra punte in die ekstra tyd kon aanteken, wat ons verder in die liga baie kon help,” het De Koker aan die Herald vertel.

Die res van die dag het egter goed verloop. Die o/20’s het die Eldoronians met ‘n telling van 34 – 0 gewen. Gerbrand Smith en DJ White het elk twee drieë gedruk. Nog drieë is deur Gordon Labuschagne en Neels Matshoko aangeteken. Smith het ook twee van die drieë verdoel.

Wes Wits se Tweedes het ook Eldoronians met ‘n telling van 21 – 8 in die stof laat byt. SP Botha, Bennie Combrinck en Hendrik van Zyl het drieë gedruk en James Block het al drie dié drieë verdoel.

Die Eerstes het ook gewys wat in hulle steek en het die opponente met ‘n telling van 38 – 7 geklop. Jean Robberts, Willie van Niekerk, Ruan de Koker, Gareth Vorster, Lwellyn Ebersohn en Neil Biewenga het drieë gedruk terwyl Jacques Oberholzer en Ebersohn van die drieë verdoel het.

Gareth Vorster is as Speler van die Wedstryd aangewys na hy uitstekende aanvallende spel en verdediging gelewer het. Hoewel Wes Wits die komende naweek teen Kagiso op die veld sou draf, gaan dié wedstryde nie meer plaasvind nie en kry Wes Wits ‘n blaaskansie. Hulle gaan weer op 6 Junie teen Jabulani speel.

Dié wedstryde sal weer op Wes Wits se tuisveld gespeel word.

Exit mobile version