Terugflits op Hoekies se naelloopblits
Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – Sewe-en-twintig jaar gelede het hy sy laaste wedloop afgeblits, maar tot vandag toe dwing die naam Jannie Viljoen, steeds respek in naelloopkringe af. Die beeld van sy bruin seunskuif wat al wippende teen die pylvak afgenael kom is iets wat nog vars in Vaaldriehoekse atletiekliefhebbers se geheue is. Viljoen (49) …
Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Sewe-en-twintig jaar gelede het hy sy laaste wedloop afgeblits, maar tot vandag toe dwing die naam Jannie Viljoen, steeds respek in naelloopkringe af.
Die beeld van sy bruin seunskuif wat al wippende teen die pylvak afgenael kom is iets wat nog vars in Vaaldriehoekse atletiekliefhebbers se geheue is.
Viljoen (49) het as kranige naelloper van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark in die laat tagtigs en vroeë negentigs die kollig met sy vaart gesteel.
Hy het sy laaste wedloop in 1993 tydens die SA Kampioenskap in die Groenpunt-stadion gehardloop. In 1990 het hy die wêreld aan die praat gehad toe hy met ‘n tyd van 20.44s in die 200m bitter naby daaraan gekom het om die wêreld junior rekord op die Herman Immelman-stadion in Germiston te verbeter.

“Ja, soms dink ek terug daaraan en onthou die opwinding en atmosfeer in die stadions,” gee Viljoen te kenne.
Deesdae woon hy saam met sy vrou Annelie (45) en kinders Marco (17) en Miley (8) in Kempton Park. Hoewel sy atletiekloopbaan verskeie hoogtepunte opgelewer het, sal 1986 vir altyd spesiaal wees. “Daar was baie hoogtepunte, maar een wat uitstaan, is in 1986 toe ek 15 jaar oud was en op die stadion in Germiston die 200m in 20.88 sekondes gehardloop het. Dit was ook die vinnigste junior 200m-tyd daardie jaar,” gee hy te kenne.
Maar waar het alles begin?
“Op 10-jarige ouderdom het my ouers besef dat ek ‘n talent het, en het my na Oubaas Coetzee geneem vir meer professionele afrigting by die Hoërskool Transvalia. Daar het ek saam met hoërskoolkinders geoefen wat my beperkinge tot die uiterste gedruk het,” skerts hy. Hy het in 1989 en 1990 sy Springbokkleure verwerf en word eersdaags in die Vaal Sport Legendes Museum ingehuldig.
Hoewel hy met ‘n persoonlike beste tyd van 10.29s oor die 100m spog, was die 200m sy gunsteling item.
“Ja 10.29s was my vinnigste tyd in die 100m wat ek in Bloemfontein met ‘n +3.5m wind van agter gehardloop het, maar dit is nie as SA rekord erken nie. Die 200m was my gunstelingitem, omdat ek altyd baie hard aan my spoeduithouvermoë gewerk het en die ander atlete van agter af ingehaal het. Die 100m was te kort en ek kon net nie my top spoed bereik nie,” vertel hy. Hoewel die voormalige leerling van die Laerskool DF Malherbe met tonne talent gebore is, is sy advies vir ontluikende atlete eenvoudig. “Ek was van nature vinnig, maar het ook hard gewerk. Hulle sê mos: “Hard work beats talent when talent doesn’t work hard.”
