SportSport

Honderd nie uit nie vir AJ

VANDERBIJLPARK. – ‘n Honderd eerstespan-wedstryde verder en steeds is daar geen einde in sig nie. Die 27-jarige AJ Pretorius se liefdesverhouding met die NWU Vaal rugbyklub is ‘n rare een propvol spesiale herinneringe. Sy twee grootste drome is om aan te hou om vir sy geliefde klub te speel en om die vrouens in sy …

VANDERBIJLPARK. – ‘n Honderd eerstespan-wedstryde verder en steeds is daar geen einde in sig nie.
Die 27-jarige AJ Pretorius se liefdesverhouding met die NWU Vaal rugbyklub is ‘n rare een propvol spesiale herinneringe. Sy twee grootste drome is om aan te hou om vir sy geliefde klub te speel en om die vrouens in sy lewe, Karin-Mari (25) en Ella-Maé (8 maande) te vertroetel.
“Om eerlik te wees, nee ek het nooit gedink ek gaan 100 wedstryde vir die klub speel nie. Na universiteit was dit moeilik om ‘n balans tussen werk en rugby te vind. Die rede waarom ek by die klub ‘stick’, is omdat dit is en altyd my familie sal bly. Ek het my beste vriende en so ook my vrou hier ontmoet. NWU Vaal se spelers is soos ‘n ketting. Elkeen ‘back’ mekaar op die veld sowel as in mekaar se persoonlike lewens,” sê hy.
Dié oudleerling van die Hoërskool Overvaal in Vereeniging het verlede jaar op agtsteman sy 100ste wedstryd vir NWU Vaal teen Vereeniging Rugbyklub gespeel. Hoewel hy eendag by afrigting betrokke wil raak, glo hy hy het nog heelwat speeltyd oor.
“Ek sal graag in die toekoms wil afrig, maar vir nou geniet ek my tyd op die veld nog hopeloos te veel.
“Spelers het dit maklik, jy oefen jou ‘game plan’ en jou bewegings en pas dit toe. Afrigters aan die ander kant, moet seker maak elke ou op die veld ken sy rol, ken die ‘game plan’ en moet die regte keuses kan maak as dit by ‘game day’ kom,” sê hy.
Sy liefde vir die spel met die ovaalbal het op Saterdagoggende met kaalvoet bulletjierugby begin.

 

Voorwaarts! AJ Pretorius klop ‘n teenstander pens en pootjies.

“Die lekkerste ding van rugby is beslis die kontak. Daar is niks wat my adrenalien meer jaag as ‘n goeie fisiese ‘game’ waar jy moet baklei vir elke meter en elke punt nie,” sê hy.
Wat sy werksetiek betref, is hy nie verniet een van die spelers waarna die jonger spelers opkyk nie. Hy is ‘n man van min woorde.
“Ek is nie ‘n ou wat te veel praat op die veld nie, maar laat my spel eerder die praatwerk doen.
“Negatiwiteit onder spelers en onbevoegde skeidsregters is die twee dinge wat my op die veld frustreer. Wanneer jy nie jou situasie kan beheer nie, beheer die manier hoe jy optree in die situasie,” sê hy.
Wat sy ontwikkeling as speler betref, is hy baie beskeie. “Daar was nie regtig een enkele persoon wat ‘n invloed op my as speler gehad het nie, dis meer ‘n kombinasie van goeie afrigters en beter spelers. Ek het by elkeen iets geleer wat ek kon toepas en myself verbeter.”
Wat die hoogtepunte in sy loopbaan betref, sal die 2019-seisoen vir altyd in sy geheue ingeëts bly.
“Die hele 2019-seisoen was vir my ‘n hoogtepunt in die NWU Vaal trui. Die ouens het selfvertroue begin kry. Die klub het weer teruggekeer na die ou NWU klub wat ek leer ken het in my eerste jaar op universiteit,” sê hy.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button