Britz blaas kennis in langasems in
VANDERBIJLPARK. – Die langpad is nie vir sissies nie. Daarvan kan enige atleet getuig wat al ‘n marathon of ultra-marathon kafgedraf het. Kopsterkte en deursettingsvermoë is van die belangrikste aspekte in ‘n suksesvolle lang- en middelafstandatleet se mondering. Daar is geen plek vir opgee nie. Die 67-jarige Johan Britz, bekende atletiek- en marathonafrigter, is een …
VANDERBIJLPARK. – Die langpad is nie vir sissies nie. Daarvan kan enige atleet getuig wat al ‘n marathon of ultra-marathon kafgedraf het.
Kopsterkte en deursettingsvermoë is van die belangrikste aspekte in ‘n suksesvolle lang- en middelafstandatleet se mondering. Daar is geen plek vir opgee nie.
Die 67-jarige Johan Britz, bekende atletiek- en marathonafrigter, is een van die ou skool garde wat al grondpad gestap het en baie sakke sout opgeëet het.
So wanneer hy oor hardloopwerk praat, kan jy gerus jou ore spits. In 1975 het sy lewe na ‘n ernstige motorfietsongeluk onherroeplik verander toe hy byna sy linkerbeen verloor het. Nadat hy in 1976 vir militêre diens op die grens opgeroep is, het die marathon-gogga hom gebyt.
“Ek het in 1976 met ultra-afstande begin en teen 1999 het ek 101 standaard marathons en 96 ultra-marathons voltooi. Dit het 13 Comrades marathons ingesluit waar ek drie silwermedaljes verwerf het. My beste Comrades-tyd was 7:02:00 in 1992,” vertel hy breëbors.
In 2003 het die afgetrede rekenmeester van Parys begin om marathonatlete af te rig. Britz se atletiek-stal het kampioene soos Lucas Nonyana, wenner van die 50km by die wêreldkampioenskappe in 2009, Peter Muthubi, huidige SA marathonkampioen en 10km in die ouderdomsgroep 35 jaar tot 40 jaar en Comrades gouemedaljewenners, Hermans Mogade en Peter Mulapo opgelewer. In 2010 het hy sy vlerke gesprei en skoliere begin afrig. Sy aanraking het soos die van koning Midas alles in goud laat verander.
Nege SA-kampioene het onder sy wakende oog op die baan geblom, en as dit nie vir Covid-19 was nie, is hy verseker dat sy 10de kampioen vanjaar gekroon sou word.
Die SA-skoleatlete wat hy al gebrei het, is: Phelani Maduwa (tweemalige SA-kampioen in die 800m), Nicole Louw (sewe keer vir Suid Afrika in atletiek en landloop verteenwoordig), Micheale Louw (SA 1500m-kampioen), Rhode Boon (driemalige SA-kampioen), Jason Bowers (SA atletiek en landloopkampioen en tans die top 1 500m en 3 000 m-atleet vir s.o/18), Renier de Villiers (SA 800m-kampioen), Marli Dimond (driemalige SA-kampioen. Op 14-jarige ouderdom is sy tans die top o.18 800m-atleet in Suid-Afrika), Adriaan Bekker (tweemalige SA-landloopkampioen) en Selna van As (tweemalige SA-landloopkampioen). Sy sukses word daaraan toegeskryf dat hy ‘n klomp klein dingetjies goed kan doen.
“Ek glo die atlete moet in in ‘n gemaklike en ontspanne omgewing oefen. Om ‘n goeie middelafstandatleet te word, moet opgee nie deel van die atleet se mondering wees nie.
“BMT word gou in oefeninge raakgesien. Met harde werk alleen het gemiddelde atlete in my groep, kampioene geword.”
“Wat ek oor die jare geleer het, is ongeag hoe hard ‘n atleet oefen, solank as wat hulle geniet wat hulle doen, is daar geen sprake van uitbranding nie,” verduidelik hy.
Aan die begin van elke seisoen vul elke atleet ‘n doelwitvorm in, waarna die doelwitte met gereelde tydtoetse gemeet en aangepas word.
Hoewel Covid-19 2020 se atletiekseisoen gepootjie het, was 2019 vir hom ‘n jaar propvol satisfaksie met die 25 podiumplekke wat sy atlete by die SA’s behaal het.
“Druk en ondersteuning is soms baie na aanmekaar. Die resep om te “peak” op die regte tyd is gelukkig ‘n kuns wat ek oor die jare bemeester het. Ek verstaan elke kind en weet hoe lank hy/sy voor die kampioenskap moet afskaal,” vertel hy.
