Jan-Jan-Jan bielie van die Fast One
DALESIDE. – Al het Jan Withaar, die wenner van vanjaar se Fast One MTB 2020-bergfietsren oor 65km, in ’n stadium die spoor byster geraak en tydelik in die veld suid van Johannesburg verdwaal, kon hy met hulp van ’n mede-deelnemer weer op die regte pad kom en daarin slaag om die bergfietswedren te wen. Die …
DALESIDE. – Al het Jan Withaar, die wenner van vanjaar se Fast One MTB 2020-bergfietsren oor 65km, in ’n stadium die spoor byster geraak en tydelik in die veld suid van Johannesburg verdwaal, kon hy met hulp van ’n mede-deelnemer weer op die regte pad kom en daarin slaag om die bergfietswedren te wen. Die ryer van die 24/7 Security Services-fietsryspan het die wedren in ’n tyd van 02:21:57 gewen, wat beteken dat hy ’n gemiddelde spoed van 27.5 km per uur oor hierdie uitdagende roete gehandhaaf het. Andreas Kuhn van die Devil’s Peak Brewing Company-fietsryspan het in die tweede plek klaargemaak (+01:11). Dinge het self nie so vlot vir Kuhn verloop nie. Dié bergfietsryer van Nelspruit het glo sy band op ’n skerp klip gesny nadat hy met Withaar opgevang het en hulle saam die regte spoor gevind het. Verder terug het Casper Kruger, ’n fietsryer van die TEG-fietsryspan en Calvin Beneke, ’n ryer van die ProTouch-span, dit vir ’n derde plek uitbaklei. Dit was uiteindelik Calvin wat die oorhand gekry het en in die derde plek (+02:29) klaargemaak het met Kruger wat ’n noemenswaardige vierde plek behaal het (+02:37). Die groep fietsryers wat Sondagoggend omstreeks 07:00 by die Café du Cirque in Daleside weggespring het, het aan die begin ’n redelike sterk wind van voor af gekry. Hoewel die groep vir lank bymekaar gebly het, was dit uiteindelik die bulte by Eye of Africa wat die kaf van die koring geskei het met die peloton wat daar begin uitrafel het. Ten spyte van al die teëspoed wat die ryers ervaar het, het die wind darem in die regte rigting gewaai met die terugkomslag na Café du Cirque. * Mariske Smith het die dameswedren oor 65km in ’n tyd van 02:59:27 gewen, met Yvonne Cornes in die tweede plek (+21:23) en Candice Ferdinandi in die derde plek (+23:04). * Johan Fourie de Villiers het die bergfietsren oor 35km in ’n tyd van 01:17:17 gewen, met Francois Botes (+00:01) ’n kortkop agter hom in die tweede plek en Boela van Staden (+01:24) in die derde plek. * Ronel van Straaten het die bergfietsren oor 35km in ’n tyd van 01:22:29 gewen. Cyanda Bekker (+07:05) was tweede en Natalie Long (+08:58) derde. Die bergfietsren is deur Spectrum Sport Events aangebied met Café du Cirque in Daleside wat die gasheer van die geleentheid was. Met die inperkingsmaatreëls wat onlangs verslap is, sien ons al hoe meer wedrenne weer plaasvind. Volgens die amptelike uitslae het 152 ryers aan die 65km-wedren deelgeneem, 59 ryers aan die 30km-wedren, 18 ryers aan die 10km-oggendrit en 17 ryers aan die 10km-middagrit. Besoek https://results.finishtime.co.za/ vir die volledige stel uitslae van hierdie bergfietsren.
