SA-glorie wink vir Dokkie
MEYERTON. – Sy het Koning Midas se goue aanraking geërf, want alles waaraan sy raak verander in goud. Die 18-jarige Maritske Rautenbach, onderhoofmeisie van die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, word nie verniet as een van die Vaal se goue nooiens van sport beskou nie. Maak nie saak of dit landloop, atletiek of netbal is …
MEYERTON. – Sy het Koning Midas se goue aanraking geërf, want alles waaraan sy raak verander in goud.
Die 18-jarige Maritske Rautenbach, onderhoofmeisie van die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, word nie verniet as een van die Vaal se goue nooiens van sport beskou nie.
Maak nie saak of dit landloop, atletiek of netbal is nie, sy ploeg haar hart en siel daarin. Haar prestasies is stille getuienis van opoffering en bloedsweet.
“Ek geniet atletiek sowel as netbal, maar netbal het die laaste drie jaar dieper in my hart ingekruip. As ek op ‘n netbalbaan klim voel ek lewendig en soos my beste self,” vertel Maritske.
Sy het pas as lid van die Gauteng Delta Netbalspan – wat tweede by die SA’s geëindig het – die SA o.19-oefengroep gehaal.
Daar is nog ‘n rondte se proewe oor wat eerskomende Saterdag plaasvind voordat die SA skolespan aangekondig word wat eersdaags in Afrika gaan toer.
Sy is voorts by die Telkom Netbaltoernooi vir o.17, o.18 en o.19-spelers as die beste o.18-verdediger aangewys.
“Ek dink wat my ‘n goeie verdediger maak is my vermoë om die spel te lees en die spoed en stamina wat ek van die atletiek en harde oefening saambring,” gee sy te kenne.
Verskeie universiteite het tou gestaan om haar aanstaande jaar daarheen te lok, maar dit wil voorkom asof UJ die wedloop gewen het.
Volgens haar trotse ma Ankea, is Bongi Msomi, hoof van netbal by UJ en die kaptein van die Protea Netbalspan, al maande op Maritske se spoor.
“Sy (Msomi) het na die SA’s vir Maritske ‘n stewige netbalbeurs aangebied om by UJ te gaan studeer,” vertel Ankea breëbors.
Die feit dat Msomi een van haar rolmodelle is, het dié geleentheid nog meer spesiaal gemaak.
“Ek het gister, 30 Oktober netbal by UJ gaan speel en om daar te staan en die atmosfeer te voel, het my net weer laat besef hoe seker ek oor my studies daar is. Ek kan nie wag om my universiteitslewe te begin nie.”
Sy het reeds voorlopige keuring gekry om haarself as chiropraktisyn te bekwaam, maar vir eers is haar visier op die finale rondte proewe ingestel.