Rhinoweek gaan Vaal stormloop
VANDERBIJLPARK. – Die Rhinoweek het weens die Covid-19 pandemie vir die laaste keer in 2019 plaasgevind. Na ‘n afwesigheid van twee jaar is daar groot belangstelling van die provinsies en streke om vanjaar deel te neem. Dit het die organiseerders van Prestige Jeugsport genoop om die hoërskoleweek in ‘n provinsiale toernooi vir o.15 en o.17 …

VANDERBIJLPARK. – Die Rhinoweek het weens die Covid-19 pandemie vir die laaste keer in 2019 plaasgevind. Na ‘n afwesigheid van twee jaar is daar groot belangstelling van die provinsies en streke om vanjaar deel te neem.
Dit het die organiseerders van Prestige Jeugsport genoop om die hoërskoleweek in ‘n provinsiale toernooi vir o.15 en o.17 seuns en ‘n streekweek vir o.14; o.15; o.17 en o.19 spelers op te deel.

Rugby:
Die streekweek vind van 29 Junie tot 2 Julie op die VUT Isak Steyl-stadion plaas en 32 streekspanne het reeds bevestig dat hulle die week gaan bywoon.
Die Sedibeng-spanne se vertoning sal met ‘n valkoog dopgehou word.
Die provinsiale week vir o.15 en o.17 spanne gaan van 6 tot 9 Julie ook op VUT Isak Steyl-stadion gehou word. Daar gaan agt o.15 en agt o.17 spanne deelneem. Die Oostelike Provinsie is die manne wat die verste moet ry.
Die Laerskole streekweek vir o.12 en o.13’s vind van 14 tot 16 Julie op die VUT Isak Steyl-stadion plaas. Tien streke het reeds hul deelname bevestig. Daar heers groot belangstelling oor hoe die Emfuleni-, Midvaal- en Lesedi spanne gaan presteer.
Hokkie:
Die hoërskole-hokkietoernooi vind ook van 6 tot 9 Julie plaas. Die belangstelling is so groot dat daar van drie Astro-bane gebruik gemaak gaan word.
Wedstryde sal op VUT, die Hoërskool Sasol en Hoërskool Dr. Malan se Astro-bane gespeel word.
Daar word voorsiening vir dogters o.14, o.15, o.16 en o.19 gemaak. Die junior seuns sal van o.14 tot o.16 in aksie wees. En vir die senior seuns word daar van o.17 tot o.19 voorsiening gemaak.
Laerskole hokkie:
Die Laerskole-hokkietoernooi wat van 14 tot 16 Julie plaasvind word in skoolverband gespeel.
Dit gee die skole ‘n uitstekende geleentheid om hul spanne vir die seisoen te slyp. Die o.11 en o.13 dogterspanne sal sake uitspook, terwyl slegs die o.13 seuns die geleentheid gegun sal word om hulle talente uit te stal.
