Ses uit ses vir Blou Masjien
MEYERTON. – Die o.14 krieketspan van die Hoërskool Dr. Malan spog dié seisoen met ‘n vleklose vertoning. Die Dokkies is vroeër vandeesmaand as die plaaslike o.14-krieketkampioen gekroon nadat hy al ses sy kragmetings in die A-liga gewen het. Die Meyertonners het sy eweknie, Transvalia, Heidelberg Volkskool en Sasolburg Hoërskool ore aangesit om met die louere …
MEYERTON. – Die o.14 krieketspan van die Hoërskool Dr. Malan spog dié seisoen met ‘n vleklose vertoning.
Die Dokkies is vroeër vandeesmaand as die plaaslike o.14-krieketkampioen gekroon nadat hy al ses sy kragmetings in die A-liga gewen het.
Die Meyertonners het sy eweknie, Transvalia, Heidelberg Volkskool en Sasolburg Hoërskool ore aangesit om met die louere weg te stap.
Die Dokkies het die seisoen 1 006 lopies in ses wedstryde gemoker en slegs 26 paaltjies in die proses afgestaan.
Jacques Nel was met ‘n gemiddeld van 103 lopies per beurt die top kolwer in die liga en sy tweelingbroer, Milan, was die naasbeste kolwer met ‘n gemiddeld van 59 lopies.
Die span se draaibal-koning, Johandre Jacobus (9 paaltjies) het die meeste paaltjies in die liga laat kantel. Hy het voorts slegs 5.4 lopies per beurt afgestaan.
Die toekenning as die mees ekonomiese boulers in die liga is deur die Dokkies se Steph Loubser en GP Vorster gedeel wat albei slegs 5.1 lopies per beurt afgestaan het. Jacques Nel is met die 11 paaltjies wat hy platgetrek het, boonop as die top paaltjiewagter aangewys.
Die Dokkies spog verder met drie spelers, Dewald Erasmus, Tristian Ashwin en Luka Pretorius wat die Sedibeng o.15- krieketspan by die Gauteng o.15-proewe verteenwoordig het.
