SportSportSportSport

Valie maak krieketgeskiedenis

Groot toekoms wink vir jongeling

SASOLBURG – Sommige sterflinge floreer onder druk
ander nie.

Die 17-jarige Meyer Pretorius is beslis een van hierdie
unieke individue wat na ‘n hoër versnelling oorskakel wanneer sy
span aan die diepkant ingegooi word.

Die jong kolfmeester van die Hoërskool Sasolburg het onlangs
geskiedenis gemaak toe hy slegs die vierde plattelandse speler in 20
jaar geword het om vir die Vrystaat se o19 Cokeweekspan gekies te
word.

Volgens sy afrigter SW Smit, het Meyer onmiddelik sy verbeelding
aangegryp toe hy hom die eerste keer in die binnenshuise nette sien kolf het.

“Ek het onmiddelik iets in hom raakgesien en gevra waar hy vandaan kom. Ek het ‘n lang gesprek met hom en sy pa gehad en hulle gevra om te vertrou in my proses.

Ons mikpunt was om hom in graad 10 behoorlik los te laat, maar hy het ‘n jaar vroeër begin uitskiet,” vertel sy afrigter.

Smit het die wenkbroue laat lig
toe die 13-jarige melkbaard as aanvangskolwer teen Grey Kollege
se eerste span aan die diepkant ingegooi het.
Hy het daardie dag 35 lopies aangeteken hoewel die vooruitsig sy broekspype soos biesies laat bewe het.

“Ek was baie bang, maar my aanvangsmaat was baie ervare en het baie druk van my afgehaal.
Vandag hou ek van die druk,” gee Meyer te kenne.
Meyer het alle verwagtinge van sy afrigter oortref en reeds in graad
nege en 10 die Vrystaat o16-span gehaal.
“Meyer het leemtes gehad, maar nie meer nie. Hy het die
tegniekhandboek ingesluk,” skerts sy afrigter.
Hoewel draaiers hom aanvanklik in ‘n web vasgedraai het, het hy
met behulp van sy afrigter en krieketnette by sy ouerhuis die
bordjies verhang.

Hy spook nou by die draaiers. Daarom word hy deesdae deur
Grey Nicolls as deel van hulle elite atleet program geborg.
Verlede jaar was inderdaad ‘n waterskeidingsjaar vir die
jong kolfguru.

Hy het meer as ‘n 1 000 lopies die seisoen teen ‘n gemiddeld van 87.5 lopies
aangeteken, wat boonop twee dubbelhonderdtalle ingesluit het.
Hy het ook 33 paaltjies platgetrek.

Veelsydig is hy beslis en hoewel hy tans vir sy skool se eerste span op nommer drie kolf is hy ewe gemaklik en effektief om die beurt met die bal en kolf te open.
Hoewel daar verskeie geelwortels deur verskeie toonaangewende krieketskole in Gauteng en die Vrystaat voor sy neus rongeswaai is, het sy
vertroue in sy skool en afrigter vrugte afgewerp.

“Ons het hom ook klubkrieket by NWU Vaal laat speel.

Daar word nie doekies omgedraai nie en hy is daar verder grootgemaak,” gee Smit te kenne.

Hoewel daar nog heelwat water in die see moet loop, lyk dit asof Meyer se kop na die Noordwes Universiteit se kant toe staan.

“Kovies het ook in my belanggestel, maar dit lyk asof ek
Potchefstroom toe gaan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button