SportSport

Valia se atletiekmasjien is geolie

Wil skool se atletiek na nuwe hoogtes neem.

VANDERBIJLPARK – Net soos die Terminator-rolprente Arnold Schwarzenegger se loopbaan en sy reputasie as een van Hollywood se grootste aksieikone gevestig het, so het die 26 Interhoër-titels Arnold van der Merwe as ‘n atletiekmasjien gevestig.

Op 68-jarige ouderdom is daar geen teken dat hierdie atletiekghoeroe sy voet van die versneller gaan afhaal nie.

Hy is verlede jaar as die Hoërskool Transvalia se nuwe direkteur van atletiek aangestel en het onmiddellik sy merk gemaak.

Met meer as 42 jaar ervaring as afrigter, organiseerder, administrateur en aankondiger is hy ‘n lopende biblioteek van kennis.

Agter sy grys snor skuil daar ‘n breë glimlag.

Hy lag maklik, maar moenie dink hy is ligsinnig nie. Wanneer dit by atletiek kom is hy ernstig.

Dissipline en goeie kommunikasie is die hoekpale waarop hy atletieksukses bou.

Na 30 jaar by Potchefstroom Gimnasium het hy by die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp ‘n draai vir vyf jaar gemaak, voordat Transvalia hom opgeraap het.

“Dit voel vir my asof ek huis toe gekom het. Die strukture en ondersteuning by Transvalia is op ‘n ander vlak.

Ek word toegelaat om gereeld met die atlete te praat. Kommunikasie is die sleutel tot sukses,” gee hy te kenne. As afrigter het sy 400m-, 800m-atlete en stappers 53 nasionale medaljes (18 goud, 17 silwer- en 18 bronsmedalje) verwerf en 10 nasionale rekords verbeter.

Hy het ook verskeie eretoekennings van ASNW (Atletiek Sentraal Noordwes) ontvang en spog met ‘n afrigtingsvlak 2-sertifisering van 1982 tot 2021.

Hy was boonop van 1981 tot 2021 die aankondiger by die SuidAfrikaanse Atletiekkampioenskap wat opsigself ‘n groot eer en prestasie is.

Hy het in die 2000’s topvlak byeenkomste, asook die beste ABSA Permitbyeenkoms, in SuidAfrika aangebied.

Hy is steeds beskeie, maar doelgerig.

“Ek is net nog ‘n skakel in die ketting. My doelwit is om Transvalia een van die beste atletiek skole in die land te maak.”

Sy resep om welslae te behaal behels deeglike data en uitslae ontleding wat hom in staat stel om die regte strategiese en taktiese skuiwe te maak.

Daar is tans slegs ‘n handvol skole wat oor tartan-bane beskik en indien alles volgens plan verloop gaan Transvalia binne drie jaar homself by die uitgelese groep aansluit.

Sedert Arnold se aankoms in Vanderbijlpark het Transvalia die Top 30 byeenkoms vir medium skole verlede jaar in Potchefstroom gewen.

Vanjaar het Valia tweede in die NWU Wildeklawer Super 16 (Afdeling 1 & 2) geëindig. Twee plekke hoër as verlede jaar. Dit laat almal uitsien na die toekoms!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button