VANDERBIJLPARK – Om eendag ‘n gholfkampioen te word is vele skoolseuns se droom, maar bitter min van hierdie drome kry vlerke.
Die 17-jarige Janko Vrey is ook ‘n dromer, maar ook ‘n realis wat dinge laat gebeur.
Dinge soos om vir die tweede agtereenvolgende jaar as Emfuleni Gholfklub se klubkampioen gekroon te word.
Dit verg egter noukeurige beplanning vir die leerling aan die Hoërskool Transvalia om sy akademie en gholf te balanseer. “Gholf is my droom, maar akademie is vanjaar vir my prioriteit. Dit kos maar soms laat nagte se huiswerk om die balans te hou,” sê hy. Sy liefde vir gholf kom al van kindsbeen af.
“Vandat ek kan onthou speel ek gholf. My ouer broer speel ook gholf en hy het my die liefde vir gholf geleer. My pa het my potensiaal raakgesien en my aangemoedig om gholf ernstig op te neem. Ek en my boetie het al soveel gholfbane saam gespeel.
My gesin is my ondersteuningsnetwerk en my pa is soos my afrigter,” vertel hy.
Oor sy tweede opeenvolgende klubtitel is hy openhartig. “Ek is verlig. Ek het geweet ek het die potensiaal om my titel te verdedig, maar ek moes dit gaan bewys deur van die beste gholf in my lewe te speel.”
Hy het die kampioenskap met ’n telling van 140 voltooi ná ’n 73 op die eerste dag en ’n uitmuntende 67 in die laaste rondte.
Sy setwerk het daardie naweek geskitter. “Ek was vier houe oor na agt gate, maar op die negende putjie het ek ’n baie belangrike lang sethou ingesit.
Op die laaste rondte se 15de putjie het ek ’n 15 voet sethou ingeslaan om vir my ’n tweehou voorsprong te gee. Ek het ’n totaal van 50 putts in die twee dae gemaak.
Een van die beste setwerkvertonings van my lewe.” Hy strewe altyd om te verbeter. Veral sy kortspel geniet die meeste aandag.
“Jbe Kruger het my geleer jy spandeer dubbel die tyd aan jou kortspel as aan die res van jou spel.” Internasionaal is Rory McIlroy sy rolmodel.
“Ek leer so baie by hom oor hoe om op te tree op ’n gholfbaan.” Om druk te hanteer, steun hy swaar op sy geloof en sy pa langs die baan.
“My geloof is die belangrikste deel van my lewe en my pa weet presies wat om te sê om my rustig te hou.” Hy beskryf Emfuleni Gholfklub as ’n plek waar hy werklik tuis voel. “Ek is baie trots om deel te wees van Emfuleni Gholfklub.
Om professioneel gholf te speel bly my grootste droom, maar ek wil nie my akademie afskeep nie . Ek vertrou dat die Here die regte deure sal oopmaak,” gee hy te kenne. Sy doelwit is om vanjaar weer die SA Hoërskole Gholf span te haal. Iets wat ongetwyfeld binne sy bereik is.
