VANDERBIJLPARK – Die Laerskool Emfulenipark het die jaar op ’n hoë noot afgeskop met ’n vriendskaplike tennistoernooi waar spelers van vier plaaslike laerskole die kans gekry het om hul vaardighede te slyp, pret te hê en hul tennis te geniet.
Die byeenkoms het nie net spanbou en sportmanskap bevorder nie, maar ook ’n ideale platform gebied vir spelers om in wedstrydverband hulself en hul teenstanders te toets.
Die toernooi was propvol aksie en opwinding. Van gelukkige trekkings tot die gewilde Een-Punt-Uitdaging.
Omdat dit ’n middag- en aandtoernooi was, kon spelers ook die unieke ervaring geniet om onder die ligte te speel wat ’n hoogtepunt vir baie jong spelers was.
Die o11 en o13-spelers het onderskeidelik op 9 en 10 April hul talente uitgestal. Die gehalte van spel laat mens uitsien na die res van die seisoen.

Die skole wat deelgeneem het, is: Laerskool Emfulenipark, Laerskool Vryheidsmonument, Primêre Skool Noord, Sasolburg en Vaalpark Primêr.

“Die byeenkoms was ’n groot sukses, met tennis wat as die ware wenner uit die stryd getree het,” se Marylize Rossouw, organiseerder van die toernooi.
