MEYERTON – In ’n sport waar brute krag en reuse teenstanders dikwels die toon set, troon ’n 16-jarige van die Hoërskool Dr. Malan vir heel ander redes bo die res uit.
Darius Botha, is nie die grootste in die sirkel nie, maar beslis een van die vinnigste en vasbeslote atlete wat hierdie seisoen sy naam in die rekordboeke verewig het.
Hy het beide die ASA- én SASSA-titels in gewigstoot vir seuns o16 verwerf. Sy reis tot die goue medaljes was egter alles behalwe eenvoudig.
Vir Darius was hierdie prestasies die gevolg van vier jaar se harde werk. “Ek het besef dat as jy hard werk, sal jy altyd presteer in wat jy doen.
Na vier jaar se SA’s is ek baie bly ek kon eindelik die goud huis toe bring,” gee hy te kenne. Hy sê voorts hy sou dit nooit sonder sy ondersteuningspan kon vermag nie.
Net voor die SASSAkampioenskap het sy droom amper ontspoor. Tydens die laaste oefensessie voor die SA’s het hy ’n kuitbesering opgedoen.
Die presiese soort voorval wat atlete slapelose nagte besorg. Darius sê hy was dadelik bekommerd oor sy deelname, maar het vasgebyt en gefokus om te probeer herstel.
Nadat hy die groenlig van sy fisioterapeut gekry het moes hy ’n moeilike besluit neem. “Daar was baie tyd en harde werk ingesit om voor te berei vir hierdie oomblik. Ek het besluit om die risiko te neem om te gaan deelneem.”
Daardie moedige besluit het vrugte afgewerp. Met ’n wenafstand van 19,71m net buite sy persoonlike beste van 20,06m, het hy die ASA-titel verower.
Selfs al was sy afstande in oefening beter, is hy dankbaar dat hy op die dag kon deelneem én wen. Omdat hy ook ’n bedrewe diskusgooier is, moes hy voor die groot kampioenskappe slim kies hoe hy sy energie gaan spandeer.
“Ons het meer gefokus op gewigstoot. Dit was waar my beste kans vir goud lê,” sê hy. Hy glo sy grootste voordeel is nie brute krag nie, maar sy spoed in die sirkel. “Ek is een van die kleiner gooiers. My spoed maak dit moontlik om ver te stoot.”
Die goue draad wat sy sukses saambind is die leiding van sy pa en afrigter, Ambro Botha. Hulle vorm ’n span wat mekaar goed aanvul.
“My pa help my met my ingesteldheid en tegnieke en soms help ek hom om iets raak te sien wat hy met sy ander atlete kan gebruik.”
Die grootste lewensles wat hy by sy pa gekry het, is eenvoudig. Harde werk oorwin alles op die baan en daar buite. Darius is deurdrenk met insig en weet hoe vinnig dinge kan verander.
Die besering het hom diep laat dink. “Dit het my laat agterkom daar is nie ’n 100% kans dat jy die sport vir altyd gaan kan doen nie. Een besering kan jou hele toekoms verander.” Tog het hy ook geleer om sy eie gedagtes te bestuur.
“Mens dink altyd aan die slegste uitkoms, maar ek het geleer soms moet jy aan die beste moontlike uitkoms dink.”
Met respek en bewondering praat hy oor sy mededingers en die algemene standaard van gewigstoot in die land.
Vir hom tel Suid-Afrika se jong gooiers onder die wêreld se bestes en dit hou hom op sy tone. Sy rolmodel, die Nieu-Seelandse ster Tom Walsh, inspireer hom al sedert graad vyf.
Darius droom egter groot. “Een van my grootste doelwitte is om my Springbok-kleure te verwerf,” sê hy vasberade.
En meer nog. Hy wil bewys dat grootte nie ’n lot bepaal nie. Hy hoop jong atlete sal eendag na sy storie kyk en moed daaruit put.
“Ek wil hê kinders wat voel hulle is te klein gebou, moet na my kyk en weet as jy jou lewe en energie op iets rig, sal jy dit regkry,” sluit hy af.
