VANDERBIJLPARK – Wanneer ruiter en perd in harmonie verkeer, is goeie prestasies jou voorland.
Daarvan kan die talentvolle ruiters van Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark beslis getuig.
Die Hoekie Hoefies het Saterdag, 23 Mei 2026, aan die Vrystaat SAWMGA Kwalifiserende byeenkoms 2 in Sasolburg deelgeneem en met trots hul skool se vaandel hoog gehou deur uitsonderlike vertonings te lewer.

Danè Scholtz ’n Graad 12-leerder het in Junior Vlak 3 haar vaardigheid en vernuf gewys met twee eerste plekke en twee tweede plekke wat aan haar die titel as Reserwekampioen op die vlak besorg het.

Jessica Deyzel ‘n Graad 11-leerling het op dieselfde vlak sterk meegeding en ‘n tweede plek, twee derde plekke en twee vierde plekke behaal.
Haar ritte op Junior Vlak 0 het egter die grootste indruk gemaak, waar sy drie eerste plekke en twee tweede plekke ingepalm het om as die Algehele Kampioen gekroon te word.
Melissa Powell ‘n groentjie Graad 8-ruiter het op Kindersvlak 1 gewys dat sy ’n krag is om mee rekening te hou.
Sy het twee eerste plekke, ’n tweede plek en ’n vierde plek behaal, wat haar welverdiende die titel as Reserwekampioen in dié afdeling verseker het.
