VANDERBIJLPARK – ACTOM Atletiekklub het die afgelope naweek tydens hul Comrades funksie al hul atlete sterkte toegewens vir die uitmergelende Comrades Ultramarathon.
Dit vind Sondag, 14 Junie plaas. Die wedloop hierdie jaar is ‘n op-wedloop van Durban na Pietermaritzburg en is vanjaar 85.77 km.

Die klub spog met 44 inskrywings vir vanjaar se wedloop met ‘n som van 169 Comrades medaljes tussen hulle.
Verteenwoordigers van die klub hierdie jaar sluit drie groentjies, Amoré Denner, Liezel Hein en Lebohang Malatji in wat vir die eerste keer hulle slag gaan wys, asook drie atlete, Lourens Nolte, Alida van der Walt en Riaan Slabbert wat vir die gedugte “Back 2 Back” gaan.
Johan Grant is die klub se mees ervare atleet met 37 Comrades op sy kerfstok.
Nog ‘n gesoute atleet, Paulus Mokhachane gaan vir die 30ste keer die roete aandurf om sodoende sy trippel groen nommer te verwerf.
Die legendariese Comrades Marathon is die wêreld se oudste en grootste ultramarathon.
Vanjaar sal dit die 99ste viering van die Comrades Marathon, “The Ultimate Human Race” wees ter voorbereiding van die 100ste aflewering van volgende jaar plaasvind.
