SASOLBURG. – Die Vaaldriehoek se sportgemeenskap word genooi om Adriaan van der Merwe, ‘n bedrewe bofbalspeler wat later vanjaar Suid-Afrika by die o.15 Bofbalwêreldbeker in Mexiko gaan verteenwoordig.
Adriaan, ’n speler van die Vaal Dodgers-bofbalklub, het reeds geskiedenis gemaak as die klub se eerste Protea-bofbalspeler en die eerste speler uit die Vaaldriehoek wat vir die Suid-Afrikaanse o.15-span gekies is. Die 14-jarige Sasolburger se prestasies het die streek trots gemaak en hom as een van die Vaal se ontluikende sporttalente gevestig.
Om sy deelname aan die wêreldbekertoernooi te ondersteun word ’n fondsinsamelings-gholfdag op 30 Julie by Heron Banks Golf Estate aangebied. Die dag bied inwoners, besighede en sport-ondersteuners die geleentheid om ’n direkte bydrae tot sy internasionale droom te maak.
Die Betterbal Scramble Drive begin om 11:00 met ’n shotgun-afslaan. Vierballe kan teen R1 600 per span inskryf, terwyl besighede en individue ook putjies teen R1 000 kan borg. Gholfkarretjies sal by die klubhuis beskikbaar wees.
Die organiseerders moedig die gemeenskap aan om die geleentheid te ondersteun. Elke inskrywing en borgskap help om die koste van Adriaan se deelname te dek en gee die gemeenskap die kans om deel te wees van ’n inspirerende plaaslike suksesverhaal.
Vir meer inligting of om ’n vierbal te bespreek, kontak Elmie by 082 457 5460 of Marc by 083 447 3383.
Met die steun van die gemeenskap kan Adriaan van der Merwe die Vaaldriehoek se naam met trots op die wêreldverhoog uitdra en wys wat moontlik is wanneer talent en gemeenskapsondersteuning hande vat.
