SportSportSport

Chantelique se droom kry vlerke

Reeds in groen en goud op 15.

VANDERBIJLPARK – Die meeste 15-jariges droom nog van groot sportprestasies. Chantelique Smith leef reeds haar droom.

Die talentvolle spiesgooier van die Hoërskool Transvalia het die uitsonderlike prestasie behaal om, ten spyte daarvan dat sy nog ‘n o15-atleet is, vir Suid-Afrika se o17-span vir die COSSASA-spele in Bulawayo, Zimbabwe, gekies te word.

Dit is ‘n bewys dat buitengewone talent nie altyd op ouderdom wag nie. Dat sy haar plek in die span verdien het, is volgens haar afrigter, Leon Rheeder, geen verrassing nie.

Tydens die SuidAfrikaanse Skolekampioenskap het Chantelique met ‘n wenafstand van 49,84 meter geseëvier. Dit was die beste afstand deur enige dogtersatleet op die kampioenskap.

“Die keurders kon haar eenvoudig nie ignoreer nie. Chantelique het gewys sy is reeds een van die mees gerekende jong spiesgooiers in die land en verdien die kans om op só ‘n jong ouderdom die nasionale verhoog te betree,” sê Rheeder.

Chantelique in aksie. Foto: Verskaf

Vir Chantelique was die nuus van haar spaninsluiting ‘n onvergeetlike oomblik. “Ek kan net dankie sê vir die Here vir hierdie geleentheid.

Dit is iets waarna ek gestreef het, en ek is baie trots op wat ek bereik het,” vertel sy. Spiesgooi is deel van haar familiegeskiedenis. Haar pa, self ‘n Suid-Afrikaanse spiesgooier, het haar reeds op 11-jarige ouderdom aan die sport bekendgestel en was ook haar eerste afrigter.

“Ons het baie naweke saam gaan oefen, en dit is waar my liefde vir spiesgooi begin het. Van daar af het my liefde vir die sport net aanhou groei,” sê sy. Kort ná haar eerste SuidAfrikaanse kampioenskap in graad ses is haar pa oorlede.

Daarna moes Chantelique en haar ma die pad vorentoe saam aandurf. Sy het by verskeie afrigters geoefen en soms teruggeval op die tegniek wat haar pa haar geleer het.

Vanjaar het haar volharding vrugte afgewerp toe sy rekord ná rekord laat spat het, onder meer ‘n 39 jaar oue skoolrekord, asook rekords by die Super Interhoër en die Gauteng Skolekampioenskap, waar sy haar eie rekord in die uitdunne én later weer in die finaal verbeter het. Tog sien sy die sprong na die o17-ouderdomsgroep nie as druk nie.

“Ek sien dit eerder as ‘n geleentheid. Dit gee my ‘n kans om myself teen ouer en meer ervare atlete te toets, by hulle te leer en te wys waartoe ek in staat is,” sê sy.

Rheeder skryf haar sukses nie net aan haar talent toe nie. “Haar Christenskap, dissipline, nederigheid, dankbaarheid, fokus en toegewyde ingesteldheid laat haar uitstaan.

Sy is besonder vinnig en beskik oor uitstekende tegniek,” sê hy. Volgens hom word daar reeds doelgerig gewerk om haar binne die volgende paar jaar gereeld verder as 55 meter te laat gooi.

Vir Chantelique se ma, Rene, en die familie is die spaninsluiting die beloning vir jare se opoffering en ondersteuning. “Ons is ongelooflik trots op Chantelique. Om Suid-Afrika op haar ouderdom te verteenwoordig, is ‘n droom wat waar geword het.

Ons is nie net trots op haar prestasies nie, maar veral op die persoon wat sy geword het,” sê hulle. Nou wag Bulawayo haar eerste tree op die internasionale verhoog. Vir die nederige 15-jarige is dit egter net die begin.

“My doelwit is om my beste te gee, die ervaring te geniet en SuidAfrika met trots te verteenwoordig. Ek wil ook graag ‘n goeie afstand gooi en wys wat ek kan doen,” sê Chantelique, wat reeds droom van deelname aan die Afrikakampioenskap, die Statebondspele en die Olimpiese Spele.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button