MEYERTON – Vir Wessel Mostert was motorsport nooit deel van die oorspronklike plan nie.
Die man wat in 2014 ’n IMMAF-wêreldkampioen in gemengde gevegskuns geword het, het jare later ’n heeltemal nuwe uitdaging ontdek. Nie in die kryt nie, maar op die renbaan.
Dit het tydens die Covid-19- pandemie begin. Met meer tyd tot sy beskikking het hy hom in die tegniese kant van motorsport verdiep.

Hy het geleer van meganika, onderstelgeometrie en die klein veranderinge wat ’n motor vinniger kan maak. Hoe meer hy geleer het, hoe meer wou hy weet.
“Wat nog altyd ’n belangstelling was, het toe iets geword waarin ek myself heeltemal kon verdiep,” sê Mostert. Kort ná die pandemie het hy sy eerste geleentheid gekry om self te jaag.
Sy ontmoeting met die tydrenjaer Ignus du Plessis het die deur oopgemaak. Du Plessis het hom met ’n Polaris UTV gehelp en hom aan die wêreld van mededingende motorsport bekendgestel.
Wessel en Ignus het aanvanklik aan tydrenne deelgeneem voordat Mostert sy plek in baanrenne gevind het. Die deurbraak het by Midvaal Raceway gekom.
Reinhardt Miller, wat hy deur die BMW M-Sports-reeks leer ken het, het hom onverwags die geleentheid gegee om in ’n kompetisieBMW M3 aan ’n wedren deel te neem.
Hy het teen alle verwagtinge gewen. Hy het skaars van die baan afgekom toe hy besluit het dat hy sy eie renmotor nodig het.
Hy het dieselfde dag een aangeskaf. Sy agtergrond as vegter het hom volgens hom goed voorberei vir motorsport. Die grootste les was eenvoudig: harde werk maak die verskil.
Maar hy sien ook ’n dieper ooreenkoms tussen die twee sporte. In ’n geveg, sê hy, verdwyn alles wanneer die klok lui. Jy moet binne sekondes waarneem, besluit, reageer en jou plan aanpas.
Op die renbaan is dit identies. “Daardie wisselwerking tussen risiko, druk en absolute konsentrasie is iets wat my nog altyd gefassineer het.” Mostert se opgang het hom nou tot die internasionale verhoog geneem.
Hy het onlangs sy debuut in die Campionato Italiano Sport Prototipe by Mugello gemaak, agter die stuur van ’n Wolf GB08 Raiden.
Hy het net twee oefensessies en ’n kwalifiserende sessie gehad om ’n nuwe motor en baan te leer ken voordat die twee wedrenne aangebreek het.
Hy het dit reggekry om 2de in die eerste resies en 2de in die tweede resies van die Masters Division te kom. Hy het dié geleentheid gebruik om Wolf as vervaardiger beter te leer ken en die motors self te ervaar.
Dit het hom gehelp om ’n beter ingeligte besluit te neem oor die aanskaf van ‘n Wolf V8. Tog lê sy grootste fokus nie meer net op sy eie prestasies nie.
Mosco Motorsport het gegroei tot ’n span met tien motors en agt drywers. Motorsport is vir hom belangrik, maar dit speel tweede viool wanneer dit by sy gesin kom.
Sy vrou, Ilze, en sy seun, Markus, kom eerste. Sy drome is nietemin groot. Hy beoog om internasionaal met GT3-motors te jaag en hoop om dalk eendag aan Le Mans deel te neem.