SportSport

Nuwe internasionale geleenthede wink vir Vaal se skopboksers

Groot geelwortel hang voor plaaslike skopboksers se neuse.

VEREENIGING – Skopboksers van die Vaaldriehoek kan in 2027 moontlik nuwe geleenthede kry om op internasionale vlak mee te ding nadat Collide Fight League (CFL) aangekondig het dat sy toekomstige K1-toernooie onder die vaandel van WKU K1 South Africa aangebied sal word.


CFL wat reeds verskeie gevegskunstoernooie by die voormalige Barnyard in Vereeniging aangebied het, het die nuwe ooreenkoms onlangs bekend gemaak. Die plaaslike gevegskunsafrigter David Kies is nou betrokke by CFL en die organisasie se planne vir die komende jaar.


Volgens CFL sal die ooreenkoms met WKU K1 South Africa, wat deel vorm van ’n internasionale organisasie met meer as 90 lidlande, nuwe moontlikhede vir vegters skep. Dit sluit toegang tot plaaslike en internasionale titelgevegte, ’n gestruktureerde ranglysstelsel en ontwikkelingsgeleenthede vir jonger vegters in.

Die organisasie maak ook voorsiening vir ouderdomsgepaste afdelings vir deelnemers tussen agt en 55 jaar.
Die nuwe reëls laat onder meer toe dat vegters hul teenstanders se skoppe vang en maak voorsiening vir bepaalde vorme van klouwerk. Die puntestelsel plaas ook groter klem op die doeltreffendheid van tegnieke.

Volgens CFL sal die nuwe beheerstruktuur verder help om toesig oor toernooie, veiligheidsmaatreëls en die welstand van deelnemers te verbeter. Geregistreerde WKU-vegters sal ook toegang tot bepaalde versekeringsvoordele hê.


Kies het aan Vaalweekblad gesê daar word reeds aan verskeie nuwe toernooie en ander ontwikkelings vir die komende jaar gewerk. Hy het aangedui dat ’n groot geleentheid ook beplan word, maar dat die besonderhede daarvan nog nie bekend gemaak kan word nie.


Volgens Kies het die voormalige Barnyard intussen die naam The Busker gekry en word daar beplan om van die komende geleenthede by dié perseel aan te bied. Hy het die nuwe verwikkelinge as ’n groot stap vorentoe vir CFL beskryf.
Hoewel verdere besonderhede oor die beplande toernooie nog nie beskikbaar is nie, behoort meer inligting binne die volgende paar weke bekend gemaak te word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button