Pickle Ball-koors tref die Vaal
Lekker nuwe alternatief vir diegene wat hou van raketsportsoorte
VANDERBIJPARK – Die opening van The Dink House Pickleball-baan op 31 Januarie was iets om te beleef, toe sowat 12 dubbelsspanne mekaar die stryd aangesê het.
Die toernooi was ‘n eerste vir die Vaaldriehoek, maar beslis nie die laaste nie. Pickleball is die stadiger boetie van padel tennis, maar behels meer taktiek en netspel.
Weens die kleiner baan kan enkel -of dubbelspel met gemak gespeel word.
Dit vind veral aanklank by beginners en senior spelers. Mens hoef nie so fiks of beweeglik te wees nie. Enigeen kan Pickleball speel.
Dit is tydens die openingstoernooi bewys toe jonk en oud sake in die kampioenskapafdeling en sosiale liga uitgespook het.
In die eersgenoemde liga het Sia Dladla en Gabrielle Sigurdsson koning gekraai nadat hulle vir Marcel Hundermark en Neil Baatsen in die eindstryd geklop het.
In die sosiale-liga het Ryno Moolman en Bianca Auret vir Francois Bam en Franco Terblanche geklop.

Volgens Hannes du Preez, mede-eienaar van The Dink House, is hy baie tevrede met die toernooi en sien hulle uit na wat vir die baan voorlê.



