Sport

Virseker weer titelborg van Noordvaal Beker

Die borgskap en samewerkingsooreenkoms sal tot 2028 geld.

Na ‘n afwesigheid van drie jaar het die versekeringsnaam Virseker aangekondig dat dit weer as titelborg van die Noordvaal Beker die grootste skolerugby-kompetisie ter wêreld sal optree.

Virseker het ’n nuwe vennootskap met die Noordvaal Skolerugby-vereniging (NVSRV) gesluit in samewerking met Provantage Sport, wat tot en met die einde van die 2028-seisoen sal strek.

Die toernooi sal voortaan weer as die Virseker Noordvaal Beker bekendstaan en dié borgskap onderstreep Virseker se volgehoue verbintenis tot Afrikaanse onderwys, kultuur, sport en gemeenskapsontwikkeling.

“Skolerugby is deel van die hartklop van baie van ons gemeenskappe, en dit is vir Virseker ’n voorreg om weer deel te wees van dié spesiale reis,” sê Morné Van Emmenes, Hoof van Bemarking by Virseker.

“Die Noordvaal Beker is nie net ’n sportgeleentheid nie, maar ’n platform waar waardes, leierskap en trots gevorm word. Iets wat presies ooreenstem met wat ons as handelsmerk verteenwoordig. Hierdie betrokkenheid is vir ons ’n belegging in jong mense en hul toekoms.”

Die Noordvaal Beker, wat reeds in 1920 ontstaan het, is nie net die grootste nie, maar ook een van die oudste skolerugbytoernooie op die wêreldtoneel.

Wat as ’n streekskompetisie begin het, het oor die afgelope eeu gegroei tot ’n monumentale toernooi waarin jaarliks meer as 200 skole van regoor die Noordelike provinsies meeding.

Dit sluit ook skole van die Vaaldriehoek in.

Die toernooi se sigbaarheid het die afgelope dekade dramaties toegeneem, grootliks danksy die ondersteuning van platforms soos SuperSport Schools en DStv asook die vennootskap met Provantage Sport.

In 2026 sal meeste wedstryde regstreeks op SuperSport Schools gestroom word, terwyl elke Saterdag een hoofwedstryd ook op DStv Kanaal 216 uitgesaai sal word.

Hierdie dekking beteken dat spelers van selfs die mees afgeleë skole nou die geleentheid het om hul vaardighede op ’n nasionale verhoog ten toon te stel.

Met die nuwe seisoen brei die kompetisie ook sy struktuur uit. Die Bowl-afdeling sal voortaan twee streke insluit (Oos en Wes) met nuwe deelnemende skole soos die Hoërskool Brandwag, Die Anker, en Hugenote wat aansluit.

“Virseker is meer as net ’n versekeringsproduk — ons wil graag deel wees van ons jongmense en kultuur se ondersteuning en ontwikkeling.

Dié betrokkenheid by die Noordvaal Beker laat ons toe om aktief betrokke te wees waar dit regtig saak maak: by die grondslag van ons gemeenskappe,” sê van Emmenes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button