SASOLBURG – Die eerste rugbyspan van die HS Sasolburg het vanmiddag met hand en tand baklei, maar moes uiteindelik die knie met 36-19 teen Bothaville buig.
Hoewel die besoekers verdien het om die kragmeting te wen is die eindtelling vleiend. Die tuisspan wat voorlangs man vir man kleiner as die besoekers was, het nie ‘n aks vir die Bothavillers se makro-agttal teruggestaan nie.


‘n Paar twyfelagtige beslissings het die tuisspan ook geen guns bewys nie. Die besoekers het met ‘n voorsprong van 20-0 gaan water drink nadat ‘n drie onder die pale kort voor rustyd nie aan die tuisspan toegeken is nie.
Die tuisspan het kort na die draaislag sy drieërekening geopen en hard terugbaklei, maar om inhaalrugby te speel is nooit ‘n maklike taak nie.
Die span se hoofafrigter, SW Smit, sal darem met sy span se veggees asook ander aspekte baie tevrede wees. Vir ‘n eerste kragmetings vir die seisoen is daar baie positiewes.
Die liga skop op 18 April af.
