SASOLBURG – Elke Saterdagoggend lank voor die res van die wêreld ontwaak, weerklank daar ’n ritme digby die DP de Villiers-stadion. Dit is nie die gedreun van verkeer nie, maar van voete van Jan Alleman wat saamkom vir ‘n weeklikse instelling: die Parkrun.
By die Sasolburg Park run is dit nie net ’n 5 km-staproete nie. Dit is ’n kleurvolle mengsel van geesdrif, glimlagte en modder aan die hardloopskoene. Families daag hand aan hand op terwyl ervare hardlopers al rek en strek. Selfs die viervoetige kinders is stertswaaiend daar.


Wanneer die “skoot” klap beweeg die atlete soos ‘n kleurvolle duisendpoot deur die roete. Wat die Sasolburg-parkrun besonders maak, is die mense. Die vrywilligers wat met helder baadjies en nog helderder glimlagte wag by die draaipunte. Hier gaan dit nie oor wen nie, al wat tel is deelname.
Wanneer die laaste hardloper of stapper oor die eindstreep draf of stap, word daar nie op horlosies gekyk nie. Daar word geklap. Dit is die ware gees van die Parkrun.

