VANDERBIJLPARK – Emma de Clercq en Franna van der Westhuizen, spogatlete van Laerskool Kollegepark, het die afgelope naweek in die Groenpunt-stadion in Kaapstad by die SASA Laerskole Baan- en Veldatletiekbyeenkoms gewys wat in hulle steek.
Emma het in die kleure van Gauteng, in ’n persoonlike beste tyd van 3:40.72, ’n silwermedalje in die 1 200 m vir dogters o.12 verower. Sy het in die proses 990 tabelpunte behaal en haar persoonlike beste tyd met ’n stewige sewe sekondes verbeter. Die item is deur Kay-Lene de Wet van Noordwes in ’n spogtyd van 3:38.67 gewen.
Franna het ook nie gras onder sy voete laat groei nie. Hy het ’n silwermedalje in die 1 500 m vir seuns o.13 verower en sy persoonlike beste tyd met 12 sekondes tot 04:18.60 verbeter. Hy het boonop negende in die 800 m-finaal geëindig.
