VANDERBIJLPARK – Die voormalige Vaaldriehoeker en oud-leerling aan die Hoërskool Driehoek, Marione Fourie, het vroeër vandeesmaand by die Gauteng Noord Atletiekkampioenskap op die Pilditch Stadium die kollig gesteel toe sy die 100m-hekkies in ’n asemrowende tyd van 12.80 sekondes gewen het om die vinnigste tyd in die wêreld tot dusver vir 2026 aan te teken.
Dit was Fourie se eerste hekkiewedloop sedert haar verskyning in die halfeindronde by die Tokyo Wêreld Kampioenskap en sy het gewys dat sy ʼn krag is om mee rekening te hou. Haar spogtyd plaas haar weer in die visier van die wêreld se top hekkie-spesialiste.
Sy het vroeër die dag het reeds haar vaart ten toon gestel gewys toe sy ’n nuwe persoonlike beste van 11.62 sekondes in die 100m aangeteken het. ʼn Bewys dat haar spoedwerk vrugte begin afwerp.
Fourie, word tans deur die gesoute Laurent Meuwly afgerig en sy slyp nou saam met die wêreldkampioen Femke Bol.
Haar doelwit is om ʼn medalje by die Statebondspele in Glasgow te verower en ’n top-16-plek by die World Athletics Ultimate Championships in Budapest verdien.
Met haar familie wat steeds in Vanderbijlpark woon het die Vaaldriehoek alle rede om trots te wees. Een van eie is besig om op wêreldverhoog geskiedenis te maak.
