SportSport

Valie speel setperke aan die brand

Sy vier is op die Sonskyntoer ingestel.

VANDERBIJLPARK – Op 17-jarige ouderdom lê die gholfwêreld aan sy voete. Wicus Brand het vroeër vandeesmaand die kollig op hom laat skyn toe hy as die Heron Banks klubkampioen vir 2026 gekroon is.

Die grense van sy gholfdrome sal net deur die vlerke van sy verbeeldingsvlug beperk word. Van talent het hy ‘n oorvloed.

Sy liefde vir die spel met die wit gedimpelde bal het op ‘n vroeë ouderdom begin toe hy sy pa se gholfstokke in hul motorhuis ontdek het. Wat as jeugdige nuuskierigheid begin het, het vinnig tot ’n passie ontwikkel.

Om langs ‘n gholfbaan te woon was soos groen voer vir die passie. Die feit dat hy tuisonderrig kry, gee hom die vryheid om sy akademie en gholfloopbaan te balanseer.

“Ek kan vooruit werk en meer tyd op die baan spandeer,” verduidelik hy. Hierdie dissipline het duidelik vrugte afgewerp.

Sy klubkampioenskap-glorie op 15 Maart was ’n hoogtepunt. Wicus het die baan met vyf houe minder as baansyfer getem. ’n Prestasie wat hy as bevredigend beskryf ná al die harde werk.

Die vonk wat die kruitvat op die laaste dag aan die brand gesteek het, was ’n briljante “chip-in” vir ’n arend op die eerste putjie wat die wind uit sy teenstanders se seile gehaal het.

Hy het drie houe ingehaal en die momentum het net aanhou rol. Hy het nooit teruggekyk nie. Nadat sy gholfbal op die 18de in die blikkie geval het, het dit by hom ingesink.

“Ek het dit uiteindelik gedoen.” Tog erken hy dat dit steeds onwerklik voel. Hy put inspirasie uit Suid-Afrikaanse gholfikoon Gary Player, wie se werksetiek hom motiveer om aan te hou slyp en skaaf.

Hy skryf ook baie van sy ontwikkeling toe aan sy afrigter en mentor Nicole van Pletsen, asook Fanie Roos, wat ’n groot rol in sy loopbaan gespeel het. Sy visier is reeds op groter dinge ingestel. Hy droom daarvan om ‘n beroepspeler te word.

“Ek sien myself as ’n groentjie op die Sonskyntoer.” Maar voor dit mik hy om die SA Amateur te wen. Hoewel sy talent onmiskenbaar is, glo Wicus dat die ontwikkeling van sy kopsterkte deurslaggewend gaan wees.

“My mental game sal my na die volgende vlak neem,” sê hy. Soos baie jong spelers, moes hy ook leer om kritiek en mense wat hom onderskat te hanteer.

Sy raad aan ander jong gholfspelers is eenvoudig, maar kragtig: “Moet nooit ophou werk nie. Druk deur. Jy is nader aan ‘n deurbraak as wat jy dink.”

Wicus Brand (links) is Heron Banks Gholfklub se klubkampioen vir 2026. Foto: Ettienne van Rensburg

Selfs ná sy grootste oorwinning tot nog toe bly sy voete stewig op Moeder Aarde geanker. Met ’n toetsreeks wat gewink het, was daar min tyd vir feesvier.

Hopelik sal daar na die opkomende SA o19-toernooi in Oos-Londen nog iets wees om ‘n sjampanjeprop te laat skiet. Vir nou is een ding seker.

Hierdie jong kampioen is nog net besig om op te warm.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button