Liggies begin wintersport met groot welslae
Sewe van die agt rugbyspanne het hul wedstryde gewen.

Ligbron Akademie vir Tegnologie het Saterdag sy wintersportprogram goed afgeskop met goeie oorwinnings in rugby en netbal teen Hoërskool Ferrum van Newcastle op Newcastle.
Sewe van die agt rugbyspanne het hul wedstryde gewen.
Die John Wright Veneers eerste rugbyspan het hul teenstanders heeltemal oorrompel en nege prag-drieë gedruk in hul oorwinning van 56 – 0. Ligbron het ná 17 minute in die eerste helfte punte aangeteken en daarna volgehoue druk op die Ferrum-spelers toegepas en hul doellyn met reëlmaat oorgesteek. Kyle Hatheryll is as Speler van die Wedstryd aangewys.
Ligbron se 0/14A-span was ongelukkig om hul wedstryd met 17 – 12 verloor.
Die ander spanne het gesorg vir uitstekende hardlooprugby en heelwat spelers het van die geleentheid gebruik gemaak om hulself te bewys.
Saterdag se tellings was (Ligbron se tellings eerste): Tweedespan wen 63 – 0, 0/16A wen 47 – 0, 0/16B wen 22 – 0, 0/15A wen 36 – 0, 0/15B wen 21 – 5, 0/14A verloor 12 – 17 en 0/14 wen 36 – 7.
Ligbron speel volgende Saterdag in Pretoria in hul eerste Superreekswedstryd teen Hoërskool Tuine.
Die Liggies se A-netbalspanne het ook beïndruk en al hul wedstryde gewen. Spelers in die drie B-spanne is deurentyd gewissel om die spanne vir die Superreeks te finaliseer. Dit het daartoe gelei dat die ritme kort-kort versteur is, maar die dogters het nogtans goeie netbal gespeel.
Die eerste netbalspan het ’n spannende wedstryd 18 – 16 gewen.
Ander tellings was (Ligbron se tellings eerste) 0/14A: 23 – 9; 0/14B: 6 – 31; 0/15A: 24 – 18; 0/15B: 3 – 11; 0/16A: 22 – 5; 0/16B: 10 – 21; 0/17A: 16 – 10 en die tweede span: 26 – 7.
’n Hokkie-kliniek is die naweek by die skool gehou om hokkiespelers in die nuutste spel-en verdedigingspatrone en hokkievaardighede touwys te maak.
Elsie Coetzer van die Elsie Coetzer Hokkieskool in Bloemfontein het die kliniek aangebied. Hokkiespelers van Noord-Gauteng, Kovsies en die SA 0/21-span het Elsie bygestaan.
Sowat 80 hokkiespelers van alle ouderdomsgroepe het aan die kliniek deelgeneem.