School sport

JJ-netbal presteer tydens Gert Sibande-uitspele

JJ se o. 12- en o. 13-spanne dring deur na die Mpumalanga netbal-uitspele wat op 9 en 10 Junie by Hoërskool Nelspruit plaasvind.

Laerskool JJ van der Merwe se netbalspanne het die skool se naam tydens die Gert Sibande-uitspele op 27 Mei hooggehou.

Dié uitspele van die A-spanne het by JJ se netbalbane plaasgevind.

JJ se uitslae tydens die groepwedstryde was:

  • o. 13A wen Siyeta – 36-0
  • o. 13A wen Osizweni – 24-5
  • o. 13A wen Kalie de Haas – 25-2
  • o. 13A wen Buhlebuyeza – 13-0
  • o. 12A wen Lamlile – 25-1
  • o. 12A wen Sizenzile – 18-0
  • o. 12A wen Trichardt – 16-4
  • o. 12A wen Izimbali – 8-0.

In die kwarteindronde het JJ se o. 13-span teen Laerskool HM Swart te staan gekom en die wedstryd met 16-9 beklink.

Die o. 12-span het teen Laerskool TP Stratten gespeel en hul kragmeting met 15-6 gewen.

In die halfeindronde moes die o. 13-span die knie teen Laerskool Goedehoop buig met ’n telling van 8-17, terwyl die o. 12’s Laerskool Standerton in ’n naelbytstryd met 9-8 gewen het.

In die eindronde het die o. 13-span Laerskool Kruinpark 17-3 geklop om ’n derde plek in Gert Sibande te verseker.

Die o. 12-span het Laerskool Kruinpark 5-3 geklop en tree as wenners van Gert Sibande uit die stryd.

Beide die spanne dring deur na die Mpumalanga netbal-uitspele wat op 9 en 10 Junie by Hoërskool Nelspruit plaasvind.

Related Articles

Back to top button