Errie-rugbyspanne wen Mpumalanga-eindstryd
In die doodsnikke van die eerstespan se stryd het die Erries die wendrie gaan druk en na ’n kort bespiegeling tussen die skeidsregter en die lynregter - wat die skare op die punte van hul stoele laat sit het - is die drie toegeken.

Hoërskool Ermelo het op 10 Junie die Mpumalanga Grootskolerugby-eindstryd aangebied.
Met drie spanne van EHS wat in hul onderskeie ouderdomsgroepe gespeel het, was dit ’n besonderse goeie dag vir die skool.
Die o. 15A’s het teen Hoërskool Piet Retief te staan gekom. Erries het vroeg die oorhand gekry en met 28-7 geseëvier.
Die o. 16A-span het kragte teen Hoër Tegniese Skool Witbank gemeet en die telling teen rustyd was in die guns van hul teenstanders, 24-10.

Met die telbord op 24 punte elk, het die spelers van beide spanne in die laaste minute alles in die stryd gewerp en tot die einde toe geveg.
Kort nadat die eindfluitjie geblaas het, het die Erries ’n strafskop verdoel en die wedstryd met 27-24 beklink.
Hoërskool Ermelo TWK se eerste rugbyspan het teen Hoërskool Rob Ferreira gespeel.

Hierdie wedstryd het ook van goeie spel getuig en die spanne was baie kompeterend.
In die doodsnikke van die eerste span se stryd het die Erries die wendrie gaan druk en na ’n kort bespiegeling tussen die skeidsregter en die lynregter – wat die skare op die punte van hul stoele laat sit het – is die drie toegeken.
EHS het die wedstryd 20-17 gewen.
“Hoërskool Ermelo is besonder trots op hierdie drie spanne wat as Mpumalanga-kampioene aangewys is. Baie geluk aan die EHS-rugby met pragtige rugby en sterkte met die Noordvaal-uitspele wat voorlê,” het die hoof, Pieter Grobler, gesê.




