JJ van der merwe se interhuisatlete haal uit en wys
Die ouers het die atlete vurig van die pawiljoene aangemoedig en ondersteun.

Laerskool JJ van der Merwe het op 17 en 18 Januarie sy jaarlikse interhuisbyeenkoms aangebied.
Die geleentheid was propvol opwinding, en die atlete het met trots hul talente op die atletiekbaan en -veld ten toon gestel.
Vanweë die onlangse reën kon die skool nie sy eie velde gebruik nie, maar die AJ Swanepoel Stadion het as ‘n uitstekende alternatief gedien.
Die deelnemers het hul uiterste bes gedoen om punte vir hul onderskeie spanne in te samel, en die skool se ondersteuners het nie teruggestaan nie.
Sien nog foto’s: HIER
Die ouers, onderwysers en vriende het langs die baan gesit en die atlete entoesiasties aangemoedig.
Een van die hoendervleisoomblikke was toe die gr. 2-atlete Liya Rosslee en Elsa Winckler mekaar in ‘n epiese stryd op die baan aangedurf het.
Dit was pure vasberadenheid toe Elsa ‘n emosionele tweede plek behaal het en Liya haar alles gegee het – tot op die punt van totale uitputting en selfs naarheid tydens die wedloop.
Die ouers, atlete en die hele skoolgemeenskap kan met opgewondenheid uitsien na die komende atletiekseisoen.