Groenes ontsteld oor bonsais wat voete kry by Innibos
Die bome het op die laaste aand van die fees van die feesterrein verdwyn.
Twee bonsai-eienaars is hewig ontsteld nadat hul kunswerke glo tydens Innibos gesteel is.
Sean Gomersall, sekretaris van Bonsai Kai Nelspruit, sê die bome was slegs ter uitstalling by hul stalletjie.
“Ons stalletjie is sedert 2021 by die fees en ons het nog nooit so iets beleef nie,” sê hy.
Die klub se bewusmakingstalletjie is jaarliks ’n gewilde trekpleister waar feesgangers ’n verskeidenheid bonsais kan besigtig en koop. Gomersall verduidelik dat hulle die stalletjie omstreeks 18:00 op die laaste aand van die fees gesluit en die bome buite gelos het, aangesien sekuriteit die terrein bewaak het.
LEES OOK: Amanda Strydom positief ná val tydens Innibos
“Die bome is te swaar om elke aand rond te skuif, daarom los ons dit gewoonlik buite,” verduidelik hy.
Toe hulle die volgende dag begin ontruim, het hulle ontdek dat drie bome weg was. Volgens Gomersall is een boom later naby ’n hek op die skoolterrein gevind, maar die ander twee is steeds skoonveld.
“Die eienaars is baie emosioneel. Hulle werk al langer as 10 jaar aan hierdie kunswerke,” sê hy. Volgens Gomersall is elke boom sowat R5 000 werd.

LEES OOK: Irene Louise Van Wyk loop Innibos mis weens gesondheid
“Ons werk saam met die Innibos-sekuriteitspan om CCTV-beeldmateriaal van die kameras op die feesterrein te bekom,” voeg hy by.
Innibos se operasionele bestuurder, Werner Terblanche, het bevestig dat hulle besig is met die ondersoek en dat hulle elke moontlike leidraad opvolg.
Laevelders is ook geskok oor die gebeurtenis en het hulle mening op Facebook gedeel. Dawn Collier sê:
“Dit is so walglik om kuns uit ’n openbare ruimte te steel!” Gerhard Viljoen sê:
“Dit is ongelukkig dat ’n goeie geleentheid om kuns uit te stal, bederf word deur persone wat geen respek het vir ander se eiendom wat nie vervang kan word nie. Iemand moes dit gesien het of weet wie dit gevat het.” Granny Cool Singer sê:
“Ai toggie, jammer om te hoor. Die mensdom is maar ander karakters.”
Enigiemand met inligting oor die vermiste bome kan vir Gomersall ’n WhatsApp-boodskap stuur by 072 478 3592.
