Local newsNews

‘n Engel kom gesels, sing by Pen in my Hand

Hy het Dinsdagaand die gaste kom vermaak.

MBOMBELA – “Ek glo ek is die engele se witbroodjie.” Hierdie is een van die vele sêgoed wat Willie Strauss Dinsdagaand by Laevelder se Pen in my Hand-geleentheid kwytgeraak het. Hy het met Alita Steenkamp kom gesels oor sy kraakvars kookboek Daar’s ‘n Engel in my Koskas en ook ‘n paar van sy liedere tot luide toejuiging van die gehoor gesing.

LEES OOK: Pen in my hand verwelkom André Bartlett

Strauss is oorspronklik van die klein dorpie Kenhardt in die Noord-Kaap. Hy het vertel dat hy toe reeds iets moes kry om hom besig te hou en dat ‘n besoek van Sonja Herholdt aan dié dorp hom geïnspireer het om self te begin konsert hou.

“Ek het dit altyd so gereël dat ek konsert hou wanneer my sussie se maatjies kom kuier. En ek het nie ‘n tamboeryn gehad nie, so toe gebruik ek ‘n uiesakkie wat ek teen my been slaan. Dan sing ek ‘Mooi Griekeland’ en ek slaan my been blou vir hulle,” vertel hy laggend.

Sy kos is nostalgiese kos en volgens hom sluit sy lekkerste resepte sy hoender-en-rysgereg, roly-poly en wortelkoek in. Tans woon hy in a sinkhuis in Cullinan waar hy gereeld langtafeletes vir gaste hou en, soos weer op 10 November, markte hou. Volgens hom kom hierdie liefde van kos uitdeel van sy ma af.

LEES OOK: Pen in my Hand: Bornman shares Lowveld’s history

“Niemand het ooit huis toe gegaan sonder om iets lekkers saam te vat nie, al was dit ook net ‘n pakkie koekies,” sê Strauss. Die aand het hy afgesluit met ‘n toonsetting van Breyten Breytenbach se gedig “Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif” en dit was asof die engele wie se glorie hy deurentyd besing, saam met hom die mikrofoon vasgehou het.

https://web.facebook.com/lowvelder.co.za/videos/176854376582067/

 

 
Back to top button