Video: Izak du Plessis, bekende potgooier en voormalige radioman, agter tralies
Du Plessis is Donderdagmiddag omstreeks 12:30 by 'n bekende inkopiesentrum in Mbombela in hegtenis geneem.

Die bekende oud-RSG-joernalis en tans eienaar en aanbieder van sy eie internetnuuskanaal, Nuuspod, Izak du Plessis, is agter tralies.
Du Plessis is Donderdagmiddag omstreeks 12:30 by ‘n bekende inkopiesentrum in Mbombela in hegtenis geneem.
Hy is deur ‘n spesiale ondersoekspan van die Valke en die polisie se misdaadinligtingseenheid en soek-en-opsporingspan in hegtenis geneem op sterkte van ‘n lasbrief vir minagting van ‘n hofbevel.
’n Video van Du Plessis se inhegtenisname het laat vanmiddag die rondte begin doen op sosiale media:
Die inhegtenisname spruit voort uit twee video’s wat op Nuuspod gepubliseer is, waarop twee afsonderlike mense oor Mike Bolhuis se optredes en ondersoekmetodes gekla het.
Hulle het Bolhuis onder meer daarvan beskuldig dat hy hulle geld gesteel het deur nie ‘n diens te lewer waarvoor hulle hom betaal het nie.
Die klaers, wie se name aan Laevelder bekend is, het glo die videomateriaal aan Du Plessis beskikbaar gestel, wat hy toe op Nuuspod geplaas het.
Bolhuis het bevestig hy het ‘n lasbrief vir Du Plessis se inhegtenisname gekry nadat hy eers ‘n hooggeregshofbevel verkry het om Du Plessis te verhoed om hom verder te belaster en om onverwyld die insetsels en video’s van al sy sosiale platforms te verwyder.
Read original story on lowvelder.co.za