Die Laeveld bring lof met Songs of Praise
Hierdie gewilde program word landswyd deur Richard Cock en sy vrou, Sue, ter bevordering van kerkmusiek in al sy verskeidenheid, aangebied.
MBOMBELA – Die gewilde Songs of Praise is terug en Laevelders kan weer verwag om met pragtige klanke van hul voete afgeslaan te word hierdie Sondag. Hierdie gewilde program word landswyd deur Richard Cock en sy vrou, Sue, ter bevordering van kerkmusiek in al sy verskeidenheid, aangebied.
Hierdie jaar is geen uitsondering nie. Die talentvolle orrelis, Ockie Vermeulen, gaan die dag nog meer spesiaal maak. Die program sluit werke in soos “Hoe lieflik is U woninge” deur Chris Lampbrecht verwerk, “On eagles wings” van Michael Joncas, die pragtige “Cantique de Jean Racine” deur Gabriel Faurè, die “Sanctus uit die Mis” van St Cecilia van Gounod, “Let there be music” van Gordon Young, en vele ander. Die Universiteit van Johannesburg se puik studentekoor onder leiding van Renette Bouwe, gaan saam met die plaaslike Laudate-koor optree. Hulle bring ook hul eie repertoire saam, met liedere wat nuut en opwindend is. Die koor lewer ook werke van hul eie soos ‘n lieflike vertolking van “Amazing Grace” deur Craig Courtney en “Old Irish Blessing” deur Denes Agay.
Soos gebruiklik word die gehoor met liedere soos “Jesus ons eer U”, ‘Go tell it on the mountain” met ‘n verskil en “Praat ek mense engele tale” betrek. Hierdie jaar sal daar weer ‘n puik koperblaser-ensemble wees wat hierdie samesang tot iets buitengewoon verhef. Die trompetpaar, Philip Cox en Braam van Tonder, gaan die gehoor met vermaak onthaal met onder andere werke van Vivaldi.
Daar is kaartjies by die Mopani Apteke in I’langa Mall, Crossing Sentrum en in Witrivier beskikbaar. Kostes beloop R75 en R55 vir pensioenarisse en kinders onder 12. Kaartjies kan ook by die kerkkantoor in Belladonnastraat bestel word en daar sal ook by die deure Sondag beskikbaar wees. Die vertoning sal om 15:00 by die Hervormde Kerk begin. Navrae: 013-741-1455.