
Soos almal maar kan ek nogals dink oor goed as ek so deur die verkeer vleg op pad huis toe. So sit ek nou die dag toe dit nog warm was by ‘n robot en dink aan geld spaar. Want ons almal moet mos maar deesdae geld spaar vir solar-liggies en so.
Ek reken toe as ek nou nie die air con aansit nie en eerder my ruit oopdraai sal ek mos so paar pitte ‘n maand minder vir petrol gebruik. Ek was net van plan om af te rol toe die voetgangerliggie by die robot begin rooi flikker. En jy weet mos in Suid-Afrika beteken dit dat die tyd reg is vir hordes om vinnig, of stadig, oor te steek. Verkieslik met n Game-trollie en twee kinders.
En steek hulle vir jou oor! Dit voel vir my of so 80 voetgangers oor my bonnet gly. Dertig skuur so naby my boot verby ek dog hulle wil inklim. En so drie staan hier langs my deur en lyk of hul wonder bonnet, boot of hijack.
Ek voel erg omsingel so met my vinger wat nog huiwer op die vensterknoppie. Ek weet die mense is ook maar net op pad huistoe en meeste van hulle het seker reine intensies maar mens kry altyd die gevoel dat voetgangers kwaad is vir jou as jy ‘n kar het. Hulle kyk jou soms agter jou stuurwiel uit. As hulle voor jou verbyloop as die lig klaar vir jou groen is gee hul jou soms so ‘n kyk wat sê, “kom boetie, ek dare jou!” En loop so stadig soos my ouma in Clicks.
Ek dog toe maar, ag toemaar, dis darem nie so warm nie terwyl die sweet tap. By die volgende robot, wat voel soos vyf meter verder en 10°C warmer, besluit ek bogger dit, nou rol ek af. Hy was nog op pad af terwyl ek stip die robot dophou toe ek skielik n stem hoor wat soos 9mm teen my oor voel, “charger vir die boss?!” Ek weet nie wie het groter geskrik nie, ek wat vaskyk in die man wat al amper halflyf in my kar is, of hy wat met die volledige vlootse woordeskat uitgehelp is nie.
Daar was nog so drie charger-kabels in die ruit vasgeknyp toe ek daar wegtrek. Dié moes hy toe maar so halfpad na die volgende robot optel en teen daai tyd was my aircon lankal weer aan. Ek sal maar bietjie minder vleis op die kole gooi volgende naweek om op te maak vir daai pitte maar een ding is seker, ek’s nie woes genoeg om laag te rol in die land nie.
Sien ook:
Tannie soene en Thandi se hande
