Alge oorsaak van verdagte kleur
Alge was waarskynlik verantwoordelik vir 'n eienaardige rooi kleur en onaangename reuk wat onlangs in die Letabarivier in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) waargeneem is.

SKUKUZA – ‘n Besoekende gesin aan die NKW was bekommerd dat die rivier noord van Letabakamp dalk met riool besmet kon wees toe hulle vroeër vandeesmaand deur ‘n onaangename reuk begroet is en daarna verdagte rooi strome in die water opgemerk het.
Een van die besoekers, met ervaring in die bou van rioolverwerkingsaanlegte, het vermoed dat die kleur en reuk deur ou riool veroorsaak kon wees. Hulle sê hulle het die reuk ook binne Olifantskamp opgemerk.
Volgens waterdeskundiges van die NKW was dit egter nie riool nie.
“Die naaste rioolverwerkings-aanleg is by Letabakamp self, en daar het geen riooloorloop plaasgevind nie,” het hulle by monde van Laura Mukwevo, woordvoerder van die NKW, laat weet.
Aangesien die Letabarivier baie ver deur landelike gebiede vloei voordat dit die wildtuin bereik, vermoed hulle dat ‘n verskeidenheid van landbou-afval in die boloop van die rivier kon beland het.
“Organismes wat natuurlik in die water voorkom, tesame met seekoei-ontlasting en ander stowwe, dra by tot ‘n diverse konsentrasie van stowwe.
“Gedurende droër tye is die konsentrasie van hierdie stowwe nóg hoër en wanneer watertemperature ook begin styg, vermeerder alge dienooreenkomstig en kan dit die abnormale kleur en onaangename reuk veroorsaak.”