‘n Nuwe, sierlike sport binnekort in die Laeveld
"Ons wil 'n volhoubare sport skep, waar ons die geleentheid het om die vreugde en voordele wat die sport ons gebied het tot op hede met ander mense te deel."

In beginsel is die mensspesie maar ietwat lomp. Oor die jare is daar dus merkwaardige kunste, foefies en sportsoorte ontwerp om dié natuurlike onhandigheid as’t ware weg te steek.
Van al die bogenoemde is daar egter min wat die mens so elegant laat lyk soos sierskaats. “Het jy al gedink hoeveel krag en oefening dit neem om in die lug te spring en een, twee, drie of selfs vier rotasies te voltooi? Neem nou daardie krag en dink jouself in wat is die tegniese vaardigheid wat benodig word om bogenoemde sprong suksesvol te doen, en nog op ys te land, terwyl jy op ‘n 3 mm lem balanseer?” Só sê die hoof- uitvoerende beampte van Yskasteel, CJ Viljoen.
Lees meer: Innibos se eerste produksie op ys slaan asems weg
Na Innibos se eerste produksie op ys die asems weggeslaan het, kan Laevelders uitsien om vandeesweek, van 17 tot 21 Oktober, deel te word van dié sierlike sport, wanneer die Yskasteel i’langa Mall toe kom.
As voorsitter van die Gauteng North Figure Skating, en huidige Gauteng-Noord Junior-dameskampioen, het Christel Viljoen verskeie versoeke ontvang van belangstellendes in Mbombela om afrigting te ontvang. Die versoeke het egter na Innibos se Fire and Ice-vertoning omtrent ingestroom.
“Sport het die vermoë om mense waardevolle lewenslesse, soos deursettingsvermoë en self-dissipline, te leer. Daar is nie nog ‘n sport wat jou so fisies kan leer dat om suksesvol te wees moet jy een keer meer opstaan as wat jy geval het, nie,” vertel Christel.
CJ sê die mikpunt is om skaatsers die vaardighede te leer om later aan die vriendskaplike geleentheid teen skaatsers van ander provinsies mee te ding. “Ons mag dalk te positief wees, maar ons beplan vir einde Julie 2020. Die self-dissipline van die individuele skaatsers sal egter bepaal of hierdie tot uitvoering gebring kan word,” vertel hy.
Lees ook: Hanco gaan by Olimpiese Spele armdruk
Later hoop CJ om provinsiale en selfs interprovinsiale kampioenskappe met meer as 100 skaatser van regoor SA hier aan te bied. Die baan is egter te klein vir ‘n nasionale kampioenskap.
“Dit is meer as ‘n proeflopie vir die Yskasteel. Ons doel is nie om dit ‘n eenmalige kamp te maak nie. Net soos ander sportsoorte is sierskaats nie goedkoop nie, dus het die beplanning juis daarom gegaan om ‘n volhoubare program daar te stel sodat alle belangstellendes die langtermyn voordele kan ondervind.
“Sierskaats is een van die min sportsoorte wat deur jonk en oud beoefen kan word, dus wil ons eerstens vir die sosiale skaatser ‘n veilige, sosiale platform bied om beter as die normale persoon te skaats en hulle vriende te beïndruk, maar weldra uit die poel talent ook kompeterende skaatsers te ontwikkel en kweek, wat op ‘n plaaslike, provinsiale, nasionale en internasionale platform kan meeding. Dit impliseer die vorming van ‘n klub/provinsie wat sal affilieer aan SAFSA (South African Figure Skating Association) om te kan meeding teen en vir die res van Suid-Afrika. Die Yskasteel is dus die perfekte platform,” vertel hy.
Lees ook: Thermocline bags the win at LBT final
“Ons wil belangstellendes die basiese tegnieke van sierskaats te leer. Ons gaan groepslesse aanbied om dit bekostigbaar te maak, waar professionele afrigters talent sal identifiseer. Die eerste les sal die onderskeie vaardigheidsvlak van elke skaatser bepaal sodat hulle in die daaropvolgende lesse verdeel kan word in groepe met soortegelyke vaardighede, wat dan ‘n sekere vlak van afrigting kan ontvang.
Daar sal ook geleentheid wees om op ‘n individuele basis afrigting te ontvang, en ons stel voor dat skaatsers die sessies met ander skaatsers op dieselfde vaardigheidsvlak deel om dit meer bekostigbaar te maak. Die hoop is dat ons aangenaam verras sal wees met die tempo waarteen die skaatsers vorder, wat die behoefte aan individuele lesse sal beklemtoon, waar individuele aandag sal lei dat meer tegniese vaardighede oorgedra word aan individue wat op verskillende tempo’s vorder. Dit is hier waar die afrigters ‘n groot rol speel.
Lees ook: God’s Window Race more than just a race for 436 runners
“Uit ondervinding is die kans vir enigeen om suksesvol of goed te wees in die sport baie goed – beter as wat mense dink. Die deurslaggewende faktor is die passie en deursettingsvermoë van die individu wat die vlak van sukses bepaal. Ons het al met meer as een geleentheid gesien en ondervind dat harde werk talent klop, so as dit werklik die sport is wat die individu kies om aan deel te neem, is daar baie geleenthede vir die persoon om te vorder tot ‘n vlak van hulle keuse. Die sport het ook verskeie opsies om mense van verskillende talente tevrede te hou – soos enkels en dans. Belangstellendes van alle ouderdomme kan kom probeer, en belangriker nog, volhou met oefening om sukses te behaal.
“Dit is juis hier waar die Yskasteel se werk lê om skaatsers gemotiveerd te hou om hulle volle potensiaal te verwesenlik. Die uitdaging is dat die gemiddelde persoon op straat nie die groter prentjie sien nie, en dus nie lank genoeg gemotiveerd bly om die vrugte te pluk van hulle harde werk nie. ‘n Deel van die Yskasteel se taak is dan juis ‘n opvoedingsproses om die ondersteuningsraamwerk van elke skaatser die groter prentjie te laat verstaan. Om die hoogste vlak te bereik, verg dit ‘n span agter die skaatser. Ons het meer as een keer beleef dat talentvolle, hardwerkende skaatsers ophou omrede die netwerk van mense om die skaatser ophou om te ondersteun. Ouers gee moed op lank voor die kinders, dus dalk ‘n lewensles wat ons vir die ouers kan leer,” vertel CJ.
“Ons wil ‘n volhoubare sport skep, waar ons die geleentheid het om die vreugde en voordele wat die sport ons gebied het tot op hede met ander mense te deel. Die natuurlike uitvloeisel is dat uit hierdie groep individue daar hardwerkende skaatsers sal kom wat kompeterend sal wees teen die res van die land se huidige skaatsers. Uit hierdie poel van talentvolle, hardwerkende skaatsers gaan daar weer die individue wees wat ons op ‘n internasionale platform gaan verteenwoordig, en wie weet… Droom groot!” het CJ gesê.
Om te registreer, besoek www.yskasteel.co.za. Navrae: [email protected].
