Hoërskool Nelspruit vier 70ste bestaansjaar

’n Skool met ’n plan vir môre

Hoërskool Nelspruit vier vanjaar sy 70ste bestaansjaar soos hy vandag daar uitsien, maar sy wortels, geskiedenis en tradisies strek terug na bykans 100 jaar gelede toe die eerste skool in 1916 op Nelspruit tot stand gekom het. Maar oudmodies is die skool ook nie; die onderwys by NHS kon oor die jare tred hou met groot ontwikkeling en vooruitgang in en om die Laeveld, en daar word jaarliks nuwe tradisies ingestel. Hierdie is die skool se verhaal.

Hoërskool Nelspruit bring hulde aan oud-hoof mnr. Corn Booyens

Cornelius Johannes “Corn” Booyens is op 20 April 2019 op 77 ná ‘n kort siekbed oorlede. Dié voormalige NHS-skoolhoof het diep spore in die gemeenskap getrap en ‘n groot impak op duisende Laeveld-kinders in sy 28 jaar by die skool gemaak.

Corn, wat weens sy bokbaardjie ook as “Bok” bekend was, het aanvanklik in die wetenskappe studeer en as jong man by African Explosives gewerk. Die onderwys het hom egter geroep, en hy het in 1960 by Hoërskool Goedehoop begin skoolhou. Hy is 1967 met Rina getroud, en hulle het op verskeie dorpe saam skoolgehou tot hy in 1976 by Hoërskool Nelspruit aangestel is.

In 1978 is hy tot hoof bevorder en het daar ‘n kleurryke tydperk vir die skool begin. Die Booyens-egpaar het ook hul kinders, Hannes, Alida en Susan, hier grootgemaak.

“Met ‘n plan vir môre” het Corn die skool tot een van die land se spogskole ontwikkel. ‘n Restaurant, hotelskool, rekenaarsentrums, konferensiefasiliteite, museum en sportfasiliteite is maar enkele uitsonderings van sy nalatenskap.

Dit was nie altyd maanskyn en rose nie, en in 1992 is die Booyens-gesin direk deur die politieke spanning geraak toe regse ekstremiste ‘n bom by hul woning op die skoolterrein geplant het. Hulle tuinier is in dié aanval dood. Corn het hom egter nie laat onderkry nie, en in 1994 is die skool geïntegreer en het die eerste swart leerlinge by Nellies ingeskryf.

Dr. Louis Swanepoel, wat in 2004 die leisels as hoof oorgeneem het, sê: “Hy was ‘n visionêre leier wat respek afgedwing het. As iemand aan ‘n probleem dink, het hy aan die oplossing gedink. Mnr. Booyens het ‘n fyn aanvoeling vir alles om hom gehad.” Sy gewilde sêding was: “As jy skrik, skrik net vorentoe.” Hy het nie toegelaat dat die skool vir uitdagings terugdeins nie.

Sy impak het nie ongemerk verbygegaan nie. Corn is in 2004 deur die Departement van Onderwys met ‘n lewenslange prestasietoekenning vereer. Ná sy aftrede het hy die politiek aangedurf, en as DA-raadslid in die Mbombela Munisipaliteit gedien. Die Booyens-egpaar het op Modimolle gaan aftree. Hulle het die land met sy selfgeboude woonwa platgery.

Corn het sedert 1968 sewe van sy eie woonwaens gebou wat hy Corina 1 tot 7 gedoop het, en in ‘n Weg-artikel van 2016 het hy selfs oor die groot plesier van hierdie stokperdjie geskryf. Hierdie formidabele man se spore lê vir altyd kruis en dwars oor die geskiedenis van NHS.

Uit die hoof se pen

Hoërskool Nelspruit gaan met deernisvolle omsigtigheid met elke kind wat deur ouers aan ons toevertrou word, om. Dit is inderdaad ‘n voorreg om elke leerder se potensiaal na die beste van ons menslike vermoëns deur middel van ‘n toepaslik opgeleide en passievolle personeelkorps, moderne en goed toegeruste fasiliteite, en ‘n weldeurdagte plan vir môre te ontgin.

Ons visie is die skep van ‘n beginselvaste, gelowige en doelgerigte jongmens wat die eise van die moderne samelewing vierkantig in die oë kan staar en met onderskeiding kan hanteer. Elkeen wat die reguit pad met integriteit stap en dit wat NHS hom/haar bied, sinvol gebruik, sal uiteindelik die palmtak met trots kan dra.

Vinculum-projek simboliseer die belangrikheid van lojaliteit en Nellie-wees vir matrikulante

Die matriekgroep van 2018 het die wens uitgespreek om ‘n tasbare bewys van hulle Nellie-wees na te laat. Die projek behels ‘n netjiese struktuur waar die geleentheid aan matrikulante gebied word om ‘n slot aan ‘n ketting vas te maak.

Dit simboliseer hulle lojaliteit aan die skool en aan mekaar. Verder sal ‘n tydkapsule wat digitale foto’s en tasbare herinneringe bevat, gebêre word en weer tydens hulle 10-jaarreünie vertoon word.

“Hiermee sluit ons ons kosbare kleinood van kindwees af, maar met die onvermydelike vooruitgang van tyd, bind ons onsself aan ons lojale alma mater, Hoërskool Nelspruit, altyd met ‘n plan vir môre,” verduidelik Miga van der Nest en Liesl Hartley, duxleerders. Om hierby aan te sluit is die projek “Vinculum” gedoop.

Die projek simboliseer die DNS van die skool wat uit gesonde tradisies bestaan en wat na uitnemendheid strewe.

Die struktuur is deur die plaaslike argitek en oud-Nellie, Sias Bosch, ontwerp.

Die trotse hart van ’n Nellie-leerder in uitdagende omstandighede

Die jaar 2020 – ‘n jaar van hoop, opwinding en groot verwagtinge op akademiese, kulturele, sosiale en ook sportvlak. Maar na net twee en ‘n half maande het die jaar vir elke matrikulant landswyd handomkeer verander met ‘n pandemie wat die wêreld feitlik tot stilstand gebring het.

Covid-19-prosedures en -praktyke word toe die nuwe normaal. Leerders en onderwysers moes aanpas met aanlynonderwys, maskers oral waar jy gaan, geen fisiese kontak nie, en om alles te kroon… die res van ‘n opwindende matriekjaar op een groot “houvas”.

Soos elke jaar die gebruik is, gee die matrikulante aan die skool ‘n afskeidsgeskenk. Maar met die ekonomiese druk op skenkers, ouers en die skool ná sowat vyf maande se grendeltydperk, moes daar ander planne gemaak word om die 2020-groep op ‘n unieke manier in die annale van die skool uit te beeld.

As leierskorps van NHS is daar reeds vroeg in hulle termyn besluit dat die skool tot ‘n nuwe hegte eenheid gebind kan word deur hulle voorbeeld, entoesiasme en leierskap.

Daarom ook dan die unieke 3D 2020 Matriektrofee: drie halfsirkels en ‘n hardekoolhoutbasis vir die NHS-masker as die middelpunt waarna alles saam aaneen gebind word, met elke leerder se gesig as fokuspunt.

Hoërskool Nelspruit verwelkom nuwe hoof

Hoërskool Nelspruit het mnr. Johan Hattingh amptelik op Donderdag, 3 Mei 2018, tydens ‘n gesellige geleentheid by die seunskoshuis, Huis Hermann Davin, se eetsaal as hoof verwelkom, nadat hy in April as hoof aangestel is en bykans ‘n jaar as waarnemende hoof ingestaan het.

Mnr. Arrie Henn, die vorige skoolhoof van Laerskool Nelspruit, het mnr. Hattingh namens skole en hoofde in die stad verwelkom terwyl die beheerliggaamvoorsitter,
mnr. Louis van der Nest, hom namens die skoolgemeenskap verwelkom het en sterkte vir die nuwe seisoen in sy lewe toegewens het.

Mnr. Hattingh is reeds vir 32 jaar deel van die Nellies nadat hy in 1986 as wiskundeonderwyser aangestel is en later die pos as senioradjunkhoof beklee het. Hy is die sewende hoof in die skool se geskiedenis en neem by dr. Louis Swanepoel oor, wat vir 23 jaar by die skool gewerk het en 12 jaar daarvan die hoof was.

Dr. Swanepoel het in 2017 sy amp as president van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) ingeneem en is ook ‘n konsultant vir die Mpumalanga-onderwysdepartement.

Duane die toonbeeld van Nellie-waardes

Daniël Johannes Vermeulen is op 3 Julie 1986 gebore. Hy staan in die rugbywêreld as “Duane” bekend – ‘n naam wat ontsag en respek afdwing. Duane se reputasie op die rugbyveld loop hom ver vooruit. Hierdie groot man, wat as een van die mees gerekende losvoorspelers ter wêreld beskou word, se rugbypaadjie het by Hoërskool Nelspruit momentum gekry.

In 2003 en 2004 was hy ‘n trotse draer van die gesogte Rhino-trui. In 2004 word hy gekies om die Pumas-rugbyspan by die Nasionale Cravenweek te verteenwoordig. Hierdie grootste van skolerugbyeenkomste word in 2004 vir die eerste keer deur ‘n skool, Hoërskool Nelspruit, aangebied.

Ná skool draf hy vir RAU uit, waarna hy na sy wortels terugkeer en 26 wedstryde vir die Pumas speel. Tydens een van hierdie wedstryde dra sy skittervertoning daartoe by dat die Pumas as die wenners van die Curriebeker se afdeling A gekroon word. In 2007 is hy deur die Cheetahs gekontrakteer. Sy reusebydrae op die veld besorg by verskeie geleenthede aan hom die toekenning van man van die wedstryd, en hy is ‘n lid van die span wat in 2007 die Curriebeker verower het. Hy speel verder 20 wedstyde vir die Cheetahs in die Super Rugby-kompetisie.

Daarna sluit hy hom by die Westelike Provinsie aan en is hy in 2012 en 2014 weer eens instrumenteel tot hul verowering van die gesogte Curriebeker. Hy speel vir die Stormers 89 wedstryde in die Super Rugby-toernooi.

Duane het sy rugbyvernuf met welslae vir die Bulle, Toulon (Frankryk) en die Kubota Spears (Japan) ingespan. Dit is egter as draer van die gesogte groen-en-goud, en toe hy later die 62ste Springbokkaptein geword het, dat Duane homself by uitstek onderskei het. Sy talent, brute krag en puik aanvoeling vir die spel is van die uitstaande kenmerke wat aan hom die bynaam, “Thor, the Nordic God of Thunder”, besorg het.

Tydens die 2019 Wêreldbekerfinaal kom Suid-Afrika teen Engeland te staan. SA wen die gesogte Web Ellis-trofee en Duane was die man van die wedstryd. Dat hy oor uitsonderlike rugbytalent beskik en ‘n al groter legende-in-wording op die rugbyveld is, word deur niemand betwyfel nie. Dit is egter die manier waarop hy sy rugby speel wat hom van ander goeie spelers onderskei en wat van hom ‘n trotse Nellie maak.

Duane speel die spel soos wat dit bedoel is om gespeel te word – kliphard, maar met eerlikheid en onblusbare sportmangees. Wanneer hy as kaptein oor ‘n skeidsregtersbeslissing navraag doen, berus hy hom by die uiteindelike besluit en vuur hy sy manne tot nuwe hoogtes aan en verdien hy nie net die respek van sy medespelers nie, maar beslis ook dié van sy gedugte teëstanders.

NHS assosieer homself met ewigheidswaardes soos eerlikheid, integriteit en goeie sportmanskap. Daarom is dit met ongekende trots dat ons die kosbare NHS-palmtak aan ‘n groot man oorhandig om dit met waardigheid en in diepe nederigheid omhoog te hou.

Rebelse oudleerlinge van 1961 geniet hul reünie ten volle

Hoërskool Nelspruit se klas van 1961 het in 2021 ná 60 jaar hul reünie by die skool gevier. Op die skoolgronde het die oudleerlinge herinneringe van vervloë kinderdae by die skool gedeel en saam daaroor gelag. Ook kon dit nie anders as om die skool van 60 jaar gelede met die een van vandag te vergelyk nie.

Die destydse hoofdogter, Marlene Viljoen, née Benade, sê die bywoning by die reünie was ongelooflik. “Die onverwagse baie mense wat opgedaag het, was wonderlik. Hierdie is ook die eerste 60-jaar reünie in die skool se geskiedenis.”

Pienaar Pretorius sê sy jaar was ‘n baie spesiale klas, en was alombekend as die rebelste. “Ons was ‘n klas van 88 leerlinge in 1961. Uit daardie 88 is 38 al oorlede, so daar is vandag 50 oor.”

Van die 50 kon egter net 22 die reünie maak, aangesien baie hulle skedules moes oorweeg en van ver af moes reis, om nie van die pandemie te praat nie.
“Die hele ervaring was wonderlik en baie verootmoedigend,” het Pretorius gesê. “Om oud te word is nie kinderspeletjies nie. Hierdie gevoel van behorendheid wat ons almal deel, hou ons almal verbind, en ons kommunikeer op ‘n gereelde basis. Ons het in ‘n mate ons eie gemeenskap gestig.”

Pretorius voeg by dat sommige van die paartjies daar teenwoordig, insluitende hy en sy vrou Rina, juis saam op skool was. “Ons was saam by NHS en het vir omtrent 10 jaar uitgegaan voor ons getroud is. Ons is nou al 54 jaar getroud,” sê hy met trots. ‘n Ander paartjie, Fouché en Louisa Wiid, was ook saam op skool en is al 52 jaar getroud.

Pretorius sê dat drie van die 22 mense saam op skool was sedert gr. 1; Wietz Botes, Daleen de Villiers en hyself. Oor die onderwerp van hoe die skool 60 jaar gelede vir die leerlinge was, sê De Villiers trots dat haar oudste broer, Desmond de Bruyn, die skool se eerste hoofseun in 1952 was. “Dinge was toe baie anders as nou. Veral die kultuur van dissipline.”

Die huidige hoof van NHS, Johan Hattingh, het ook die reünie bygewoon en almal vir hulle teenwoordigheid bedank, asook dié wat hul kinders en kleinkinders gestuur het om die skool by te woon.

Vriendelike Fanie groet NHS ná 36 jaar

Maandag, 31 Augustus 2020, was die laaste keer dat Fanie Themba NHS se skooldeure gesluit het. Vir 36 jaar was dit slegs een van die take wat hy altyd pligsgetrou uitgevoer het.

Fanie het in 1984 by NHS begin werk. Hy was ‘n algemene assistent wat altyd vriendelik gereed was om met enigiets te help. “Ek onthou nie baie van die eerste dag wat ek hier begin werk het nie. Al wat ek onthou, is dat hier slegs ‘n paar geboue was. Ons het hard saam met mnr. Booyens en die personeel gewerk om verbeteringe by die skoolterrein aan te bring. Ek onthou dat ons die trappe by die krieketveld gebou het.”

Hy is baie emosioneel as jy hom vra wat hy die meeste van NHS gaan mis. “Ek gaan almal mis. Ek wil graag vir almal dankie sê vir die mooi jare wat ons saamgewerk het.” Om die leerders nie meer te sien nie, gaan beslis vir hom ‘n groot leemte laat. Hy sê dat die Saterdag-sportgeleenthede een van vele hoogtepunte vir hom was.

Me. Theresa de Wet, die skool se ontvangsdame, het vir agt jaar saam met Fanie gewerk. Sy sê Fanie is ‘n man wat ‘n passie vir sy werk gehad het, van water in die ketel gooi vir koffie vir die personeel tot klaskamers oopsluit, gras sny en vele ander take.

Hy was altyd net ‘n oproep ver om vele take akkuraat en presies uit te voer. “Dit het altyd vir my gevoel of ons twee in kompetisie was wie eerste by NHS kan wees om die voordeur oop te sluit.”

Kultuursentrum word met trots ingewy

Hoërskool Nelspruit se nuwe kultuur- en veeldoelsentrum is op 7 Junie 2017 amptelik en feestelike in gebruik geneem. Byna 400 vriende van die skool het die geleentheid bygewoon.

Musikale items deur NHS-leerders het van die talent ten toon gestel. Die aand is met Coenie de Villiers se ou gunstelinge en die Charl du Plessis Trio se opgewekte styl afgerond.

Die sentrum, die nuwe Astro-hokkieveld en nuwe B-rugbyveld spruit grootliks uit die skool se fiestajaar se inkomstes, en die Trust vir Afrikaanse Onderwys, die Atterbury Trust en die breë skoolgemeenskap. NHS hou elke vyf jaar – dus, een keer in ‘n leerder se hoërskoolloopbaan – ‘n groot fondsinsamelingsprojek.

Dit strek direk tot voordeel van die leerders en sal hulle in staat stel om op ‘n hoër vlak teen stadskole mee te ding. Die sentrum huisves ook ‘n daghuis vir die versorging van kinders smiddae na skool todat hulle ouers hul laatmiddag kom haal.

‘n Kafeteria is ook hier ingerig sodat ouers kan wag wanneer hulle kinders aan buitemuurse aktiwiteite deelneem. Die toenemende getal leerders wat aan ‘n wye verskeidenheid kultuuraktiwiteite deelneem, het die oprigting van ‘n kultuursentrum genoodsaak.

Vir dié doeleinde sluit die gebou ‘n dansateljee, kunsateljee en ‘n klankopnamefasiliteit in. Die argitektuur van die gebou gee ‘n meer moderne aanslag aan die skool. ‘n Keramiekklipkunswerk deur oud-Nelliekunstenaar Anton Bosch aan die buitekant van die gebou simboliseer die verskillende fasette van NHS.

Die voorstelling van ‘n palmtak wat sentraal staan soos in ons leuse, Palmam qui meruit ferat, verwys na die Nellie wat waardig is om die palmtak te dra. Wat dit so spesiaal maak, is dat sy seun, Sias Bosch, ook ‘n oud-Nellie, as deel van Gerhard Jooste se argitektuurspan die gebou ontwerp het.

Die beeldhouwerk van Arend Eloff pronk ook buite die gebou in die vorm van ‘n pragtige swartwitpens (sinoniem met NHS se wapen) wat deur die matriekgroep van 1983 onder leiding van mnr. Piet van Dyk geskenk is.

Klas van 2019 begin nuwe tradisie

Tydens die laaste saalopening van die matriekklas van 2019, is daar met ’n splinternuwe tradisie begin. Die twee hoofleiers, Mia Schmidt en Reuben van der Merwe, het ’n pragtige ghong aan die skool oorhandig.

’n Ghong is ’n Oos-Asiatiese musikale slaginstrument in die vorm van ’n plat, sirkelvormige metaalskyf wat met ’n hamer getref word. Dit het sy oorsprong in China en het later versprei na Suidoos-Asië.

’n Ghong produseer twee klanke. Arno Marais het hierdie ene gemaak en vir die leerders dié unieke klanke gedemonstreer. Dit is met trots deur Neofresh geborg. Na afloop van die saalbyeenkoms het die leerders en gr. 12-onderwysers ’n erewag tot by die Vinculum-projek gevorm.

Die matrieks het vir oulaas deur die saal tot by die Vinculum geloop en almal het hulle slotte met hulle name op aan die ketting van die 2019-jaargroep vasgemaak. Die ghong word tydens saalopeninge gebruik.

Die begin van ’n nuwe era vir NHS

NHS se asbesgebou, wat eens die binnenshuise krieketnette gehuisves het, is nou in vier nuwe klaskamers omskep. Dié klaskamers is op Woensdag
15 Junie ingewy.

Lede van die beheerliggaam, die personeel van NHS, die borge en andere wat hierdie droom verwesenlik het, het dié geleentheid bygewoon. Die klaskamers gaan vir wiskunde geletterdheid, toerisme en lewensoriënting aangewend word.

Mnr. Johan Hattingh, die skoolhoof, sê dit is ‘n voorreg om deel van ‘n skool te wees waarby die gemeenskap betrokke is, wat die skool se verwagtings oortref en waar daar ‘n oorheersende etos van vriendelikheid teenoor die leerders is. “Hierdie projek getuig van omgee en betrokkenheid – baie dankie!”

Mnr. Johan van Biljon van Nelspruit Konstruksie het die lint geknip, en daarna is die sleutels aan mnr. Jaco van der Merwe, mnr. Gunther Swart, me. Charmaine Coetzee en me. Hené Swanepoel oorhandig.

Die beheerliggaam en topbestuur is hard aan die werk om planne vir die toekoms te beraam.

Back to top button