VIDEO: ’n Boere-opskop op Kaapsehoop saam met die Potgieters se tweede huweliksbevestiging
Vriende van hier en naby kom almal saam om die boere-opskop op Kaapsehoop saam met die Potgieter-paar te vier
Kaapsehoop was die afgelope naweek spreekwoordelik Hollands toe De Wet en Isobel Potgieter hul tweede huweliksbevestiging op die berg gevier het.
Saam met sowat 95 gaste – bestaande uit Nagkantoor-vriende en berggemeenskapsvriende – het Nagkantoor en die Waenhuis, waar die tweede onthaal plaasgevind het, behoorlik uit sy nate gebars.
Dit was ’n ware boere-opskop en ’n spitbraaigeleentheid soos min; al wat ontbreek het, was meel op die vloer en konfetti.
Die Potgieter-egpaar is op 14 Maart by Nebo Venue in Bloemfontein deur André Agenbag, streekslanddros van Mbombela, in die eg verbind. Agenbag, wat onder die egpaar as ‘Die Edeldierbare’ bekend staan, het ook die gaste tydens Saterdag se vieringe verwelkom.

LEES OOK: VIDEO | De Wet en Isobel haak die knoop deur op pad na leeftyd van geluk op Kaapsehoop
Geen formele trouformaliteit was deel van die aand nie, maar met stylvol gedekte tafels en ’n onvergeetlike spitbraai met bykosse, voorberei deur Elaine Blignaut – oftewel Mbombela se eie ‘Pienky’ – is die aand perfek afgerond.

Isobel het self die nagereg voorberei en haar vernuf met soetgoed het nie teleurgestel nie: gaste het weggesmul aan heerlike outydse malvalekker- en pynappelroomtert.
Gaste kon ook die gasteboek, wat tydens die seremonie in Bloemfontein gebruik is, invul.

Dit was egter tydens ’n paar toesprake dat ’n mens soms diep moes sluk, maar ook heerlik saam kon lag.
“Dit is so wonderlik van Kaapsehoop: ’n mens kom kuier vir iemand, ontmoet dan ander mense, en skielik vind jy jou plek en word jy deel van die gemeenskap. Ek het eendag my voet in my mond gesteek toe ek haar vra wanneer sy bergklere dra; Isobel is nie iemand wat bergklere dra nie. Mag julle twee ’n leefpad saamstap en mag dit baie mooi wees,” het Annemarie van der Walt gesê.
Susan Bruwer Morris het op haar beurt gesê dat die egpaar se troue van Bloemfontein tot Kaapsehoop gevier word.
LEES OOK: Die Natsteen- en Boekenaweek was weer nommerpas
“Ons sien hulle elke dag en dit is vir ons lekker om te sien wanneer iemand gelukkig is. Dit is ook vir ons besonders om te sien hoe twee mense soveel wonderlike mense vanaand bymekaar kon bring om hul huwelik te vier. Ons het De Wet in blydskap én in hartseer gesien.
Toe kom hierdie sprankelende vrou, waaroor almal praat, in sy lewe – soos ’n vars bries wat die berg op sy kop kom keer.
LEES OOK: Kaapsehoop-pad ‘n lus vir die oog danksy vrywilligers
“Ons is opreg bly vir julle en dankbaar vir die mense wat julle is en vir die invloed wat julle na die dorp toe bring. Julle is soos ’n handskoen wat mekaar perfek pas. Ons wens julle net blydskap en vrede toe,” het Bruwer Morris afgesluit.
Yolanda Geldenhuys het ook ’n roerende boodskap gelewer.
“Die eerste keer nadat ons De Wet ’n ruk gelede ontmoet het en ek en my man, Basie, hom weer gesien het, en ek merk hoe netjies sy hare skielik was, het ek vir Basie gesê: ‘Liefie, daar is ’n vrou in die man se lewe…’ en wow! Die kwaaiman het begin smile; daar is nou ’n sagtheid.
LEES OOK: Bordjies teen die muur in Kaapsehoop-gastehuis vertel ‘n duisend stories
“Kaapsehoop is gebless met ’n pragtige kombinasie van mense wat kuns, kultuur en beauty bymekaarbring. Klas met gawigheid saam met Potlood. God se seën is hier. Mag elke traan ’n traan van vreugde wees; mag elke lag uit julle maag kom. Môre is aan niemand belowe nie – geniet dit,” het Geldenhuys onder luide applous afgesluit.
Daarna het die feesmaal begin, en gaste het tot vroegoggend saam gekuier om die egpaar se huwelik op die ‘berg van hoop’ te vier.

En ja – die Kaap is nou inderdaad Hollands op Kaapsehoop.


























