Vierpotiges lê en wag om jou hart te steel
Van dié honde is ondermeer net agtergelaat wanneer eienaars verhuis het en ander is uit haglike omstandighede gered.

LYDENBURG – ‘n Liefdevolle huis is al wat hulle wil hê.
Daar is tans 34 honde in 22 hokke by Lapsar wat desperaat op soek is na nuwe eienaars. Volgens Johan Vercueil het C-Visie, wat in beheer is van Lapsar, genadiglik die afgelope week 10 van hierdie diere ingeneem, maar hy meen dat die nood steeds groot is.
Van dié honde is ondermeer net agtergelaat wanneer eienaars verhuis het en ander is uit haglike omstandighede gered. “By Lapsar sit ons geen hond uit nie. Ons wil sover moontlik al die diere die geleentheid bied om ‘n liefdevolle huis te kry. Ons het in die laaste jaar, vandat C-Visie Lapsar oorgeneem het, 60 honde hervestig.”
Volgens hom lê die groot probleem by die dorp se inwoners. “Baie mense het die idee dat ‘n hond net ‘n gebruiksartikel is. Ons het nou weer ‘n geval gehad waar ‘n mopshond met haar werpsel in ‘n mandjie gesit was, in die veld ingedra is en net gelos is. Dit gebeur gereeld.”
Hy sê dat hy al verskeie oproepe ontvang het waar mense hom inlig dat huiseienaars getrek het en dat daar honde in die erf is met net genoeg kos en water vir een dag. “Mense het my al gebel en begin vloek omdat ek nie hulle honde kan inneem nie omdat die hokke vol is.”
Vercueil vertel dat hy reeds met ‘n landdros gepraat het en dat hy besig is om die Nasionale Vereniging van die DBV te nader om jurisdiksie in Lydenburg te verkry om diere te kan verwyder en mense te kan vervolg.
Volgens hom is dieremishandeling ook ‘n probleem. “Ons het onlangs ook ‘n geval gehad waar ons ‘n teef uit ‘n erf verwyder het wat so maer was dat haar heupbene deur haar vel gesteek het. Sy lyk nou baie beter. Sy het ‘n huis gekry, maar moes ongelukkig terugkom omdat sy nie met die ander honde op die werf oor die weg gekom het nie.”
Vercueil sê dat hulle kontrole uitoefen om seker te maak die diere kry ‘n goeie huis.
Om ‘n hond by Lapsar aan te neem is eenvoudig. “Ons versoek mense om die dier veearts toe te neem, hulle te laat inent en ontwurm en as hulle kan die hond te laat regmaak. “Almal kan dit egter nie bekostig nie en in sulke gevalle vra ons, as dit in die persoon se vermoë is, om ‘n sak of twee hondekos te skenk.”
Baie ondernemings en mense is C-Visie baie goedgesind, maar die skuiling benodig boumateriaal om ekstra hokke te bou en ook hokke vir katte. “Daar is op die oomblik geen hokke vir katte nie. Ons vra ook komberse met die winter wat nou gaan begin.”
Hy sê dat die hokke nooit sal leegstaan nie. “Teen vanaand is daar weer vier of vyf honde meer. My ideaal is om nog 10 of 15 hokke aan te bou.”
Vir meer inligting oor hoe om een van dié honde aan te neem of skenkings, skakel Johan Vercueill by 082-877-4586.
