Lappies kan ‘n rekord breek
Dit was werklik verfrissend om te sien hoe soveel vroue kan saamwerk, elk op hul eie tyd en aan hulle eie projek sonder ‘n sweempie kompetisie, maar met ‘n positiewe gesindheid.
Nadat Barberton Times onlangs berig het oor die vroue van die dorp wat deelneem aan ‘n poging om ‘n nuwe wêreldrekord op te stel vir die grootste laslappiesdeken, is ons uitgenooi om ‘n middag saam met hulle deur te bring.
Die kletsende, kleurvolle en bedrywige groep vroue, wat nie ‘n spesifieke naam vir hulle groep het nie maar net praat van “lappies”, het by die huis van Isabel Nel bymekaar gekom. Volgens hulle het die groep ontstaan toe ‘n paar baie kreatiewe vroue besluit het om een maal per week hulle handewerk te bring en by iemand se huis bymekaar te kom.
Op dié dag was daar ‘n eregas van formaat. Sy is die baie statige en sjarmante oudburgemeestersvrou, Wenna Strydom. Wenna se hande staan vir geen steek verkeerd nie. Nadat sy ‘n paar maande gelede een aand op die televisieprogram Kwêla ‘n laslappieprojek gesien het, wat probeer om die Guinness World Book of Records te haal, het sy die lappiesgroep genader.
Vroue van regoor die land maak tans lappiesdekens en stuur dit na Sheila van Dyk, stigter van Stiches for Africa. Teen die sperdatum, wat in 2019 is, beoog hulle om die wêreldrekord vir die grootste laslappiekwilt (25 100 vierkante meter) te verbeter. Die allemintige groot produk sal ná die tyd in klein kwilte omskep en aan kinders geskenk word. Vandat sy van die projek bewus geword het, het Wenna reeds op haar eie 16 van die allermooiste kwilte van die standaardgrootte wat versend moet word, 25×35 duim, geskep. Haar handewerk is waarlik iets om te aanskou en sodra mens dink jy het nou alles gesien, laat die malse kleure van die volgende laslapkunswerk jou asem wegslaan.
Hoewel die lappiesvroue van Barberton allerlei handewerk afgesien van laslappies doen, het hulle ook ingeklim om te help en gou-gou was daar reeds blokke om aanmekaar te werk en saam met die res te versend.
“Ons is op soek na nog vroue wat kan hand bysit,” sê Wenna. Sy het selfs aangebied om dié wat niks van laslapwerk weet nie onder hande te neem en touwys te maak in die vaardigheid.
Dit was werklik verfrissend om te sien hoe soveel vroue kan saamwerk, elk op hul eie tyd en aan hulle eie projek sonder ‘n sweempie kompetisie, maar met ‘n positiewe gesindheid. Toe hierdie joernalis spottenderwys vra of dit soos die spreekwoordelike koek-en-tee gaan waar dorpsmense te dikwels die onderwerp van bespreking is, het hulle omtrent gelag. Nee, sê hulle, dit is beslis nie wat daar aangaan nie. Hulle het geen insae in of belang by die dorp se skindernuus nie. “Ons het almal kinders en kleinkinders en is almal Christene en dit is waar die meeste van ons gesels om draai,” sê Una Edmeades wat ook deel van die groep is.
Na afloop van die middag en nadat almal heerlik gesmul het aan Isabel se yskastert, het die groep ‘n gebed gedoen voor hulle uitmekaar gegaan het.
Wenna sê skenkings van lap of kontantbydraes sal baie waardeer word en noem dat hulle baie dankbaar is teenoor NTT Toyota, asook Defy wat reeds kontantskenkings gemaak het vir die aankoop van materiaal. Dames in die dorp wat by die projek betrokke wil raak kan haar gerus skakel by 013-712-2724.








