Ringbalspanne kou klippe in ligawedstryd
Die Barberton-vroue het van die begin af die span van Ngodwana op hulle neuse laat kyk en stert in die lug van die baan gestap met 'n puntetelling van 34-4.

April was so ver ‘n uitmergelende maand vir die ringbalspelers van Barberton Ringbalklub. Volgens die voorsitter, Martiné Jooste, het hulle verlede Woensdagaand in Lydenburg ligawedstryde gespeel en dit was bitter koud. Die spanne het ook eers in die vroeë oggendure weer in Barberton aangekom.
Lydenburg se vrouespan is tans boaan die rangleer maar die Barbertonners het dit reggekry om 20 punte teenoor die wenners se 42 aan te teken. Die manspan wat sonder ‘n paar van hul sleutelspelers was, moes ook na ‘n harde wedstryd die knie voor Lydenburg buig. Die telling was 24-16.
Saterdag het beide hierdie spanne, wat nog nie behoorlik van die vorige wedstryde herstel het nie, op Coronationpark teen die spanne van Ngodwana Ringbalklub te staan gekom.
Die Barberton-vroue het egter van die begin af die span van Ngodwana op hulle neuse laat kyk en stert in die lug van die baan gestap met ‘n puntetelling van 34-4.
Die mans se wedstryd was ‘n wipplankryery wat die punte betref en alhoewel Barberton teen die einde nog voor geloop het, kon hulle maar net nie die span van Ngodwana ore aansit nie. Afgesien van ‘n onsmaaklike voorval gedurende die wedstryd waartydens skeidsregter Linda Pedro van Ngodwana ‘n Barbertonse ondersteuner aangevat het, was dit ‘n energieke wedstryd. Barberton moes egter ook hier bes gee en Ngodwana het met 38-34 gewen.
Jooste sê dit is nog vroeg in die liga en dat beide die mans- en damespan ‘n baie goeie kans staan om as die Laeveld se kampioene gekroon te word.
“Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om al die spelers uit my hart te bedank vir hul toewyding tydens oefening en wedstryde. Nie almal kry altyd die geleentheid om tydens die wedstryde te speel nie en hou sodoende die reserwebank warm, maar sonder hul insae kan die span op die baan nie altyd goed funksioneer nie. Dus, aan al die impakspelers, dankie vir julle puik spangees.”
Hierdie is die senior liga en Jooste sê dat die junior spelers, in die geval waar senior spelers nie beskikbaar is nie, groot skoene moet volstaan en dat hulle hierdie rol baie goed vertolk.
“Die klub het nou ‘n loslootjie voor die volgende ligawedstryde gespeel word en ons nooi alle spelers, jonk of oud hartlik uit om aan te sluit en te kom oefen. Die klub het spelers van alle ouderdomme vanaf o/13 tot meesters wat ouderdomme vanaf 45 jaar en hoër insluit.
Ook wil ek al ons ondersteuners bedank vir hulle teenwoordig-heid by al ons tuis-wedstryde.”
Vir verdere inligting kan Jooste na-ure gekontak word by 082-3884-998.
























