Baarde wilder as die wildtuin
Die dorp se manjifiekste baarde is onlangs tydens Laeveld Akademie se opedag bekroon.

Laeveld Akademie het onlangs hulle opedag gehad en oudergewoonte was dit ‘n groot sukses. Die dag was vol pret en vermaak vir die hele gesin; van ‘n motor slaan met ‘n hamer, tot toutrek en bokdrolletjies spoeg. ‘n Melktertkompetisie het gesorg vir gesonde mededinging tussen die dames en vir die mans was daar’n baardkompetisie – ‘n eerste vir Laeveld Akademie.
Die kategorieë was:
• Dirkie Uys – Dit is vir die man wat nog probeer

• Genl. Christiaan de Wet -– Dit is vir die man was sy baard moet netjies hou vir sy werk

• Genl. Koos de la Rey – Dit is vir die man wie se baard nie getem kan word nie, dus wilder as die wildtuin.
Die wenners het weggestap met lekker pryse geborg deur Buffelsfontein Baardolie. Ook, omdat die vermaaklikhede geval het op Erfenisdag, was daar heerlike braaivleisvure en het die skool oudergewoonte ‘n paar spanne gehad wat meegeding het om die titel van Laeveld Akademie se braaikampioen.
Die wenspan was die Wilde Weste wat gesorg het vir heerlike geregte soos onder andere biltong- en bloukaassop. Radio Laeveld het die heeldag regstreeks uitgesaai vanaf die skoolterrein en die gemeenskap op hoogte gehou van al die pret.
Laeveld Akademie sien uit na volgende jaar se opedag en hoop om jou daar te sien, of dit nou is om deel te wees van ‘n braaispan, ‘n melktert in te skryf, met ‘n spogbaard te kom draai of om die skool te kom besoek om u kind in te skryf.
Vir enige navrae besoek gerus die skool se webwerf by www.laeveldakademie.co.za

