Local news

Willem Botha betower Laeveld-dames tydens grimeermeesterklas by Aloe Hill

Die bekende sanger en akteur, Willem Botha het die Laeveld-dames tydens sy grimeringsmeesterklas touwys gemaak ten bate vir 'n organisasie sonder winsbejag.

Dames het 24 Oktober aan die lippe van die bekende akteur en sanger, Willem Botha, gehang tydens sy grimeermeesterklas by Aloe Hill. Die gaste, wat in groen geklee was, het die lente se tema van nuwe beginne weerspieël. Die geleentheid het vroue die kans gebied om hulself opnuut te ontdek en hul kennis van grimering uit te brei.

Jolene Bolton en Willem Botha.

Die funksie is ten bate van ‘n nierstigtingsorganisasie aangebied. Die saak lê Jolene Bolton, ‘n deelnemer aan die Mrs Mpumalanga-kompetisie, na aan die hart. Botha het die oggend afgeskop deur die gaste met bekende en nuwe liedjies te vermaak.

Hy het ook met humor teruggekyk op sy loopbaan en vertel hoe sy pad hom uiteindelik na die skoonheidsbedryf gelei het. Min het hy aanvanklik geweet dat hy eendag sy mikrofoon vir ‘n grimeerborsel sou verruil. Botha het verduidelik dat hy aanvanklik ‘n liefde vir fotografie ontdek het.

LEES OOK: Hannon Bothma transformeer Laeveld-dames

Hy het later besef daar is ‘n behoefte aan fotograwe wat ook grimering kan doen. Hy het homself deur middel van YouTube-video’s leer grimeer en hare stileer.

Vandag neem hy van Suid-Afrika se grootste sterre vir verskeie tydskrifvoorblaaie af. Hy het ook sy eie reeks skoonheidsprodukte, Willem Botha Beauty, bekendgestel. Hy het verder vertel dat hy en sy span onlangs internasionale erkenning vir hul produkte ontvang het en verskeie pryse by internasionale kompetisies gewen het.

Candice van Zyl, Dalene Hood, Renette Rootman en Leandri Bester.

Tydens die meesterklas het Botha Bolton as model gebruik om sy tegnieke en wenke aan die gaste te demonstreer. Sy kennis en vaardighede het die vroue geboei, terwyl hulle aandagtig na elke wenk geluister het. Botha het self met ‘n laggie erken dat dit dalk ongewoon mag lyk vir ‘n man om dié kennis te deel, maar het gewys hoe die regte grimering ‘n mens se voorkoms kan verander. Die transformasie van Bolton was opvallend.

LEES OOK: Helpende Hand weer op ’n rol vir liefdadigheid

Na afloop van die meesterklas het Bolton oor haar deelname aan die Mrs Mpumalanga-kompetisie en haar persoonlike veldtog vertel. Sy het verduidelik waarom niergesondheid vir haar so belangrik is.

Elzane van Heerden, Xerené Wahl, Gerda Viljoen en Carli Strydom.

“Ek het my man verlede jaar aan nierversaking verloor en daarom wil ek mense bewus maak van die siekte,” het
sy gesê.

Haar veldtog, Her Crown His Legacy, het die boodskap van bewusmaking en gemeenskapsondersteuning beklemtoon. Die oggend is met ‘n ligte ete afgesluit. Botha en sy span het ook die dames gehelp om die regte onderlaagkleur vir hul velkleur te kies. Gaste kon boonop sy produkte by ‘n tydelike verkooppunt aanskaf.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button