Dorp se stortingsterrein haal nie die paal nie
Die burgerregteorganisasie het onlangs agt vullisterreine in die Laeveld as deel van hulle jaarlikse vullisterreinouditveldtog geoudit.
Die stortingsterrein op die dorp het wel nie AfriForum se jaarlikse oudit van vullisterreine geslaag nie, maar het die beste van die Laeveldse dorpe gevaar met ‘n gradering slegs ses persent minder as die slaagsyfer van 80 persent.
Die burgerregteorganisasie het onlangs agt vullisterreine in die Laeveld as deel van hulle jaarlikse vullisterreinouditveldtog geoudit. Altesaam 17 vullisterreine in Mpumalanga is besoek.
Met dié projek gaan AfriForum-takke munisipale vullisterreine na om te kyk of munisipaliteite in dié opsig die mas opkom. Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet no. 59 van 2008) moet ‘n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen, insluitend faktore soos toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie. ‘n Vullisterrein moet ten minste 80 persent behaal om aan hierdie wetgewing te voldoen. Nie een van die vullisterreine in die Mpumalanga Laeveld het dié oudit egter geslaag nie.
Volgens Piet Skead, voorsitter van die plaaslike Afriforum-tak, was hy teenwoordig tydens die besoek aan die oorlaaistasie op Witrivier. “Daar word op sekere kriteria gelet waaraan voldoen moet word, soos effektiewe toegangsbeheer, omheining, die toestand van houers waarin vullis opgeberg word en die hope vullis op die terrein, asook hoe skoon die terrein oor die algemeen is.”
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder in Mpumalanga, was glad nie beïndruk met die resultate nie. “Dit is skokkend om te sien dat die munisipale besture hul pligte in hierdie verband so versaak. Talle terreine voldoen nie eens aan die basiese vereistes nie,” het hy gesê.
“Sekere terreine het geen omheining nie en beskik ook nie oor masjinerie wat die vullis kompakteer nie. Op sommige terreine het ons mense wat vir privaat herwinning deur rommel sif, opgemerk. Dit is baie onveilig aangesien die mense nie eens beskermende klere dra nie,” sê Bekker.
Thaba Chweu se stasie het 35 persent behaal, Machadodorp slegs ses persent, en Mbombela 64 persent.
Na die bekendmaking van die resultate sou AfriForum met die betrokke munisipale besture beraadslaag het om oplossings te bespreek. Die munisipaliteit se Joseph Ngala, het teen druktyd geen terugvoer rakende die vullisterrein verskaf nie.
Lees ook: Polisiewerf kry nuwe verf by Witrivier se waaksame inwoners
