Skooltjie word herstel
LYDENBURG - Herstelwerk aan die historiese Voortrekkerskool wat verlede jaar in 'n brand ernstig beskadig is, het begin.
Dié nasionale gedenkwaardigheid wat aan die NG Moedergemeente behoort, het die aand van 14 Julie gedeeltelik afgebrand. Die mure het grootliks behoue gebly, asook enkele dakbalke, maar die grasdak is totaal vernietig. Brandstigting is vermoed. Die 166 jaar oue pioniers-geboutjie is na berekening die oudste behoue Westerse struktuur in sy oor-spronklike toestand, in Mpumalanga.
Volgens ds. Christie Smit, predikant van die gemeente en ook lid van die restourasiekomitee, is die eerste fase van opruiming, soos die verwydering van brandreste, die uithaal van vensters om die oorspronklike styl en hout vir die nuwe vervaardiging van ‘n paar vensterrame te bepaal, afgehandel.
Die gebou dateer uit 1851 en is in 1962 as nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Toestemming moes van die provinsie gekry word om die gebou te herstel, aangesien dit ‘n nasionale gedenkwaardigheid is. Volgens ds. Smit is die restourasieplanne deur Joe de Villiers, ‘n argitek van Mbombela wat spesialiseer in die herstel van historiese geboue, opgetrek.
Die eenvertrek-grasdakgebou in die Suid-Afrikaanse pionierstyl vorm deel van ‘n historiese gebouekompleks wat ook die ou Voortrekkerkerk op die perseel van die Moedergemeente uit dieselfde tydperk insluit asook die huidige kerk-gebou van 1985 wat gebou is in die neo-gotiese styl eie aan die Victoriaanse era.
Omdat dit ‘n historiese geboutjie is, moet alle herstelwerk verseker dat die oorspronklike voorkoms behoue bly.
“Hierdie is ‘n lewendige monument,” vertel ds. Smit. “Veral toeriste besoek graag die skooltjie. Ons gaan dit nou ook deur die dag meer toeganklik maak vir belangstellendes. Die koster, Ina Liebenberg het groot planne om besoekers te verwelkom. Sy gaan nie net inligtingsbrosjures beskikbaar stel nie, maar ook eiesoortige Suid-Afrikaanse verversings voorsien.
Tydens die brand kon geskiedkundige dokumente, portrette, Bybels en psalmboeke en die inhoud soos die geelhoutbanke, ongeskonde gered word. Hoewel die plafon van riete gemaak was, wat opsigself ‘n groot brandgevaar ingehou het, was daar ‘n betonversterking wat nie sigbaar was nie bo-op die riete aangebring wat die brandrisiko verminder het. “Was dit nie vir hierdie betonversterking nie, kon die skade aansienlik groter gewees het,” het ds. Smit vertel.
Die dek van die grasdak gaan deur ‘n spesialis op die gebied gedoen word. In die Kaap gebruik hulle dekriet, terwyl dekgras in die noorde van ons land gebruik word. Die dekproses kan eers begin wanneer “ryp” gras beskikbaar is.
Die misvloer sal ook oorgesmeer moet word. “Dit is ‘n kuns om die vloer te doen. Die hale of sirkels waarin die vloer gesmeer word verg iemand wat dit ken. Gelukkig is daar ‘n vrou op ‘n plaas in die omgewing wat dit vir ons gaan doen. Interessant hier is dat die mis van somer- en wintergras verskil,” meen ds. Smit.
Hoewel die NG Moedergemeente Lydenburg die trustee van hierdie historiese gebou is, en dit die kerk se eiendom is, behoort dit kultureel ook aan die gemeenskap, vertel ds. Smit. “Die skooltjie is verseker, maar die bedrag wat uitbetaal is, dek nie die totale herstelkoste nie. Hulp met die restourasieprojek in die vorm van donasies sal daarom baie waardeer word.” Vir bydrae: Ina Botha by
013-235-3101.


